Saturday, March 29, 2008

Uiteindelik - Sommer klomp dinge

Ek sien dit is al meer as 'n maand vandat ek laas iets op die Blog ge'post' het. Nou verstaan ek waarom almal aanhou sê ek moet iets oplaai... Ek verstaan julle frustrasie: Ek lees ook Volksblad en Die Beeld en selfs die Rapport online, en wens elke keer dat ek iets sal lees wat waarde tot my lewe sal toevoeg, maar elke dag is dit maar dieselfde. So om te verhoed dat ek nou in politiek en die wesenlike van die hiper-liberale Afrikaner se skaapkraal gaan rondkrap, wend ek myself tot dinge 'closer to home'. (waar ek tans bly natuurlik...). Iets wat hopelik meer om die lyf het as die super insiggewende artikels in ons daaglikse dagblaaie...

Soos gewoonlik het die werk by my nog nie minder geword nie. Ons kry elke dag 'n nuwe maatemmer vol uitdagings - ingestamp, opgestapel en oorlaai. Gelukkig beskou ek nie meer slaap as 'n noodsaaklike aspek van my bestaan nie, so ek het nou 8 ure meer om in te werk. Nogal indrukwekkend hoeveel mens gedoen kan kry in 24 uur. Ek moet regtig iemand in SA vra om my 'n paar Bar-one's te stuur ek sal kan doen met 25 uur dae. Ek kla nie, ek weet dit gaan met almal woes - almal het baie werk, en ek hoor by Elserie dat die 3de jaar argitektuur studente ook baie min slaap (selfs nog minder as ek - vermoed ek), maar dit is mos maar 'n student se lewe. Om op te som - ten spyte van die harde werk gaan dit goed. Ek leer baie en doen nog heel goed so ek kla nie.

Vir die wat nog nie gehoor het nie, ek het werk gekry vir die somer vakansie. Oor ongeveer 8 weke eindig my 2de semester by MIT en dan begin die immergewilde 'summer holiday'. Vir die algemene student beteken dit 3 maande van vryheid, son en bittermin akademiese verpligtinge. Ek kon seker ook daardie opsie gekies het, maar siende dat die meeste van my kollegas ('klasmaats' met net nie daardie 'graduate school' gevoel nie) gedurende vakansies werk het ek ook besluit om dieselfde te doen. Die enigste probleem is dat indien ek wel 'n werk kry ek saam met my eerste salaris tjek 'n komplimentêre vlug terug SA toe (komplimente van die VSA regering natuurlik) sal ontvang aangesien internasionale studente nie buite die universiteit mag werk nie. Ek verstaan hierdie punt heeltemal want indien die internasionale studente wat wettiglik in die VSA is gaan begin werk, sal daar geen werk oor wees vir al die onwettige Meksikane en Etiopiers nie... (grap net - weet dit is 'n swak smaak grap, maar ek kon nie anders nie.) Ek is darem nie heeltemal verbied om te werk nie, solank MIT my tjek onderteken mag ek werk, so soos 'n goeie Afrikaner het ek gedoen wat enigiemand in my posisie sou doen; 5000 emails uitgestuur na elke navorsingsgroep by MIT in wie se werk en effens belangstel en myself heelhartig aanbeveel. Sommige noem dit Spamming, ander noem dit 'om jouself aan iemand op te dring', ek noem dit 'job creation'. Ek het gevra en ek het ontvang. Ek het werk gekry by een van die Building Technology groepe wat spesifiek werk op die onderwerp van 'daylighting'. Hulle fokus op tegnologie om beter gebruik te maak van daglig. Om dit baie eenvoudig te stel, hoe meer ons gebruik kan maak van daglig in ons geboue, hoe minder hoef ons gebruik te maak van elektrisiteit. Daglig, oftewel sonlig (direk of indirek) word egter ook met hitte en 'n hele klomp ander, somtyds onaangename dinge geassosieer, so dadelik moet 'n manier uitgevind word om lig in te bring, maar hitte uit te hou. Saam met dit moet ons gereedskap ontwerp en beskikbaar stel wat argitekte kan gebruik om akkuraat kan bepaal hoe hul geboue ten opsigte van daglig sal reageer - hierdie is meestal sagteware. My werk sal fokus op die saamstel van 'n tipe databasis wat gebruik kan word om die verskillende tegniese apparate en venster behandelings (films ens) wat tans beskikbaar is te organiseer en saam met die tegniese inligting en tekeninge te 'file'. Geen argitek of ontwerper wil kosbare tyd mors om self 15 verskillende maatskappe te skakel om uit te vind of hulle dalk iets het wat hom (of haar) kan help nie. Dit is waar ons dan inkom - die databasis sal online wees, en sover ek verstaan gratis.

So vir twee maande gaan ek dalk soos 'n normale mens kan werk - klink vir my of dit 'n 9 - 5 werk kan wees met naweke af, so vir my is dit amper soos vakansie - en ek word nog betaal ook, bonus! Vir die van julle wat opgelet het is daar dus 1 maand oor wat ek nie gaan werk nie en wel vakansie het - en in daardie maand verwag ek 'n baie spesiale gas vanuit Suid-Afrika, dit is nou indien die Amerikaanse regering vir haar 'n visum sal gee... (Ek het 1 volle week nodig om my bachelors flat skoon te maak, nog 'n bed te organiseer, nog 'n stel eetgerei, borde en koppies aan te skaf omdat ek tot op hede geleef het soos... soos 'n bachelor natuurlik. O, ja ek moet ook 1 stel beddegoed koop, want ek slaap al vir amper 6 maande in 'n slaapsak. Ek is fine daarmee, maar 'n kuiergas moet darem regte beddegoed kry om op te slaap.)

Ek verneem dinge in SA raak al koeler, net soos dinge aan hierdie kant warmer begin raak. Nog nie werklik tot so 'n mate dat mens dit sal agterkom nie, maar die sneeu is weg en dit sal binnekort volledig lente wees. Aangesien ek net die stertkant van die somer tydens my aankoms in herfs hier beleef het weet ek nie werklik hoe die somer is nie, maar soos ek kan onthou en wat mense my vertel raak dit baie warm, maar is dit ook 'n baie mooi plek om te sien selfs al is dit warm. Klink my dit is baie groen ook.

Ek kan nog vir bladsye aan gorrel oor wat hier aangaan, maar ek moet seker begin afsluit. Ek weet ek het nie veel gesê wat nuus is nie, maar nuus hier is maar werk. Ek sal binnekort weer probeer om iets op te laai - dalk 'n paar foto's of drie. Tot dan, hier is twee 'links' waarheen julle kan gaan. (Dit is links bo - die nuwe links) Die eerste is ons klas se 'persoonlike' blog. Die naam 'missed opportunities' spruit uit 'n term wat een van ons 'starchitect' dosente gereeld gebruik om ons projekte se menigte swakpunte mee op te som. Dit is darem nie suiwere gemors nie (alhoewel dit soms is), maar meer net 'n geleentheid wat gemis is... Die tweede link gaan na my online dorpie - net iets wat ek ontdek het op die internet. Hoe meer mense die dorpie 'besoek' hoe vinniger groei hy. ('n nuttelose tydverdryf natuurlik...)

Elkgeval hier is dit.

Laat dit goed gaan daar met almal. Indien julle iets spesifieks wonder, e-mail my asseblief. Ek vat gewoonlik nie langer as 'n week om te antwoord nie : ) . Dankie vir die ondersteuning, gebed, biltong en beskuit. (pick die bedanking wat by jou pas...)

Groete, liefde en alles van die beste, (kies weer die een wat by jou pas, indien jy onseker is vat sommer al 3, daar is genoeg vir almal!)

G

Monday, February 11, 2008

Koud...

Het vandag 'n nuwe woord geleer - Arctic wind...
Dit beteken -9 grade oppad klas toe - sonder die wind chill factor ingereken...

Geniet die somer!

Monday, February 4, 2008

Weer terug...

Na 'n woes lekker kuier by die huis, is dit maar weer terug werk toe... Baie dankie aan almal wat my kuier so lekker gemaak het - baie sleg om julle almal weer daar te los, maar wie weet, dalk kom kuier ek gou weer...
Aan almal wat ek nie gesien het met my kuier nie (of die wat ek baie min gesien het), baie jammer daaroor.

My totale reistyd vandat ek by my Bloemfontein huis weg is, totdat ek by my VSA huis ingestap het was 'n totale 48 ure. Gelukkig het ek darem die naweek gehad om te herstel (alhoewel ek eintlik 'n week sou waardeer...). Elkgeval, genoeg vir nou. Ek laai gou weer iets op. Mooi bly almal...

Thursday, December 13, 2007

Sneeu!

So tussendeur die 4ure se slaap per nag (dit is die maksimum wat ons dosent voorgestel het) wou ek net iets oplaai om te wys my dae bestaan nie net uit studio nie. Eerstens ons het die ander aand tot 12uur met ons dosent gekrit en moes toe kos bestel - het lekker geeet...
Tweede foto, hoe ek myself beskerm...
Derde groep fotos verduidelik waarteen ek myself moet beskerm...

Groete,
G

Thursday, November 15, 2007

Kan mens dit glo...

So met al die gepraat oor Thanksgiving wat oppad is hoor ek van 'n tradisionele Amerikaanse 'produk' genaamd "turduken". Uitgespreek "tur-dukin" en nie "turd-ukin" nie. Dit behels die plaas van 'n hoender binne 'n eend en die twee saam binne 'n kalkoen. Hierdie drie musketiers word dan saam in die oond gestop en gedurende die ete geskied 'n proses wat konseptueel iets tussen oop hart chirurgie en die geboorte van klein hondjies voorstel. Vir 'n oomblik (a.g.v. min slaap) was ek met afgryse vervul totdat ek besef dat die 3 geveerde vriende van hulle aardse kettings verlos word voordat hulle die pad van die "NP se vereniging met die ANC" volg. Ek hoor egter dit is steeds beter om nie deel te wees van die proses van voorbereiding nie. Ek moes dit net noem.

Saturday, November 3, 2007

Net 'n vinnige post...

Net 'n vinnige post om te sê ek leef nog en dinge gaan goed - baie besig, maar goed. Ons gaan more New Haven toe (daar waar Yale is) om geboue te kyk en daarna lê daar maar 'n baie besige week voor. Besig beteken dinge soos min tot geen slaap vir 'n ruk asook spesifieke gevalle waar ons studio dosent ons op Sondagaand 21:45 laat studio toe kom en ons eers 2:00 Maandagoggend daar uitstap, net om weer maandag klas te hê... Genoeg om te sê ek kan nie meer wag vir 'n vakansie nie. Net as bewys dat ek dit nie erger laat klink as wat dit is nie - hiermee saam 'n foto wat ek geneem het tydens die krit van ons laaste projek. Duidelik is ek nie die enigste student wat hard werk nie (nee, hulle bid nie)...

Ten spyte van hierdie dinge vind ek die tyd hier sover baie waardevol. Ek leer baie en geniet dit oor die algemeen - so moenie bekommer nie - ek is fine. Ek sal sodra dinge rustiger begin gaan nog 'n paar fotos oplaai saam met 'n paar minder ernstige en meer humoristiese stories. Laat dit goed gaan... Ek gaan nou slaap. Yipee!

Monday, October 22, 2007

Die Snit waaroor ons nie praat Exter in kontras daarmee

Uiteindelik weer 'n nuwe post op my blog... Soos afgelei kan word gaan dit nogal besig aan hierdie kant. Studio hou ons besig en dan word daar vir lekkerte 'n skaal 1:1 snit deur 'n 30 voet gebou ingegooi net om seker te maak ons leer nie te hard aan die eksamen nie. Sover gaan alles darem nog goed, en omdat ek graag vanaand wil slaap het ek besluit om net 'n vinnige post op te laai. Ons gaan more na die International Masonry Institute waar ons meer oor Masonry gaan leer. (Nee Willie, nie Free Masonry nie, net gewone Masonry - hier is min Freedom aan die kant...) Klink my ons gaan bietjie messel en 'arches' bou ens. (Ons is mos archi-tects) Klink opwindend - ek moet darem bietjie avontuur vir my $60 000 per jaar klasgeld kry...

Die fotos wat ek oplaai is van ons besoek vandag aan die Exeter Library. Enigiemand wat iets van argitektuur weet behoort saam te stem dat hierdie werklik een merkwaardige gebou is. Ontwerp deur Louis Kahn is hierdie 'n uitstekende voorbeeld van 'n gebou gebasseer op klassieke beginsels in 'n moderne styl en gebou met moderne materiale. (Modern in die sin van die styl en nie kontemporêr - die gebou staan al omgeveer 40 jaar.)
Ek laai ook proses fotos op van ons 30 voet snit deur die MIT Chapel (ontwerp deur Saarinen). Ons het die 'materiality' van die gebou ondersoek en 'rubbings' van die stene gemaak. Aangesien die gebou omring is deur water het ons die nabygeleë muur 'gerub' om die effek te kry. Dit was nie die mees suksesvolle voorstelling nie, maar dit was die lekkerste een...
In skaamte, die volgende:
Ek het die springbokke in aksie gemis... Ek was in 'n studio klas vanaf 11 die oggend tot 4 die middag (op 'n Saterdag)... Wat mens nie alles opoffer vir geleerdheid nie...
Goed gaan verder en groete (Mis julle).



































Ons 30 voet snit uitgestal in MIT se hoof ingang. Die lelike dun een aan die regterkant is ons s'n. Dit is soos 'n oom in die tronk of 'n lelike hond - praat nie te veel oor hom nie alhoewel ons hom baie liefhet... MIT se beroepsveiligheid mense het minute nadat ons snitte opgehang is ons dosent kom berispe omdat sy nie die 'nodige kanale' gevolg het om ons goed hier op te hang nie. "Iemand kon seergekry het..." (Ok, dit is welbekend dat MIT gereeld gedagvaar word vir enigiemand wat vir enige rede seerkry. Dit is afterall Amerika...)

Die binnekant (en buitekant) van die Chapel. Die gebou sit in 'n poel water en wanneer die son skyn weerkaats dit op die water en skyn dit in die gebou in (dit het horisontale vensters wat lig vanaf onder inlaat) en gooi dit ligpatrone teen die kurwes van die mure. Die son het nie die dag so lekker geskyn nie.