Saturday, September 29, 2007

Die storie van die hare...

Ek besluit mos toe erens gedurende verlede week dat dit tyd raak om my hare te sny. Ek is alreeds langer as 'n maand hier en my hare het vinnig gegroei, soveel so dat ek sukkel om dit elke oggend onder beheer te kry. Dit was op daardie stadium waar dit net te lank was om te gel (sonder om soos Jak de Priester te lyk (alhoewel dit goed lyk by hom)) en nog heeltemal te kort om soos die misverstaande argitektuurstudent te lyk. Die enigste probleem is dat ek nie 'n idee het waar om my hare te laat sny nie, en soos die werk meer word, en die tyd minder, raak die haarsny se posisie op die lys van prioriteite al hoe laer en gaan lê dit uiteindelik net bokant "vind uit vanwaar die vreemde grys stof in die badkamer vandaan kom". (Dit is baie laag op die lys (sien voetnota)). Vandag, oppad na die Carpenter Center loop ek verby 'n plekkie, half weggesteek tussen economy hardware en 'n koffiewinkel, wat homself uitgee as "salon" ("walkins welcome!" lees die bordjie in die venster (Kon nog verstaan of 'walkins' en 'inloop' maw 'hy het my ingeloop, dit is waarom ek sy budgie verinneweer het' iets in gemeen het nie...). Ek besluit toe om oppad terug daar 'n draai te maak. Ek stap 'n uur later daar in en besef dadelik iets lyk nie heeltemal reg nie... Ek kon nie my vinger daarop plaas nie, maar iets was definitief anders hier... Ek staan toe maar eers vir 15 sekondes half verward rond opsoek na die ontvangs toonbank (soos wat ek altyd by Maison Costa gesien het) en besef dat hier niemand is wat gaan vra "Kan ons u help...". Ek maak toe maar kontak met een van die haarkappers. Ek stel myself voor as 'n 'walkin' en maak die internasionale teken vir 'n skêr met my vingers en bring die vingers na my kop (Binne die spesifieke konteks het ek gehoop hy verstaan dat ek wil hê hy moet my hare sny). Half onvriendelik beduie hy vir my om op die bank, half weggesteek agter die deur, te gaan sit en wag. Ek sien hy is besig met 'n man se hare en daar wag nog 3 klein seuntjies ook in die ry om hulle hare te sny. (Dit was seker pa en seuns se uitstappie na die haarkapper). Ek gaan sit maar daar en blaai deur die tydskrif met die cartoons in (die enigste ander een het oor celebrities gegaan, en cartoons is altyd meer opvoedkundig...). Meteens word ek bewus van die hifi wat hier langs my dreun en binne 'n oogwink word ek verplaas (deur tyd en ruimte) na die Thakaneng brug ('Die plek waar mans en dames studente (in 'n gees van eensgesindheid, akademiese voortreflikheid en nasiebou) saamkom om te leer en te sosialiseer'). Ek besef dat ek nie 'n woord van die musiek verstaan nie - dit klink soos een of ander Afrika taal, maar dit is mos onmoontlik! Hoe kan ek, meer as 22 ure se vlieg vanaf my tuisland, musiek hoor, gesing deur 'n tradisionele kollega in sy tradisionele taal. Musiek so hard, ritmies aanhoudend en eentonig dat dit jou tandpyn kan gee... Ek word meteens bewus van die kaart van Jamaika teen die muur en soos mis voor die son (of Afrikaners op kovsie kampus) verdwyn my onsekerheid oor wat hier aan die gang is. Ek merk op dat ek die enigste persoon in die salon is wat se voorouers moontlik van Germaanse afkoms kan wees. My hare is die enigste wat reguit groei, en tussen al die mense weet ek dat my vel pigment benadeeld is. Die legkaart stukkies val in plek... Die seuntjie op die stoel se 'afro' word stuk vir stuk afgeknip op 'n wyse wat my aan Keith Kirsten se vernuftig hantering van 'n snoeiskêr op 'n Saterdagoggend tuinbou klub tee laat dink. Die man op die ander stoel se donsies val sagkens op die vloer en ek sien hoe die wind dit (saam met die blare van buite) verder die winkel inwaai tot aan die voete van 'n vrou wat besig is om straightener aan 'n klient se kop te smeer... Tot die skrif wat gebruik is om die salon se naam teen die vernster te verf lyk skielik vir my etnies van aard... Hoe kon ek dit mis... Hierdie plek is seker nie heeltemal vir my bedoel nie - ek bedoel, hoe gereeld gebeur dit dat iemand met sy lang golwende donkerblond lokke en baby blue 'MIT Federal Credit Union' (dit was wit voordat ek dit saam met die blou Made in India-hemp gewas het) hier instap. Die vuil kyke maak sin - and to add insult to injury gebruik die MIT man primitiewe vingertaal en 'n kombinasie van brom geluide (my gebroke engels) om vir 'n haarsny te vra. (Klink soos Tintin in the Congo...) Ek besluit toe maar om die beste gebruik te maak van die geleentheid en myself bloot te stel aan 'n deel van Amerikaanse kultuur wat ek nog nie geken het nie... en met dit is dit my beurt... Ek gaan sit tussen my vorige kliënt se donsies en die mantel word omgehang. Die stoel kan 360 grade draai en ek word weggedraai vanaf die spieel. Hy vra my hoe ek my hare wil hê en ek probeer te verduidelik, met die hoop dat alles sal uitwerk. Skielik begin daar teen 'n skrikwekkende spoed aan my hare gesny - met die knipper. Ek sien hoe my Eurpoese lokkies een vir een op die grond neer plof, en 'n klein geintegreerde Suid-Afrika saam met al sy ander donsie maatjies op die vloer vorm. Ek moet op gevoel staatmaak om te weet wat die man doen, want ek is weggedraai vanaf die spieel - Toe hy die skêr naderbring dink ek by myself Kersfees het vroeg gekom hierdie jaar want watookal gebeur ek gaan 'n geskenk kry vandag - ek gaan of die geskenk van my balans, gehoor en die vermoë om oorbelle te dra behou terugkry, of my bloeiende oor in 'n sakkie... Halfpad deur vra hy vir my of ek 'n student by MIT is... (My MIT Federal Credit Union t-hemp het dit seker nie weggegee nie...). Ek antwoord sy vraag bevestigend. "Don't burn out your brain..." kom sy antwoord. Hy mompel nog iets van 'the best school in the world..." en ek besluit om hom van my 'world' te vertel. Ek vertel hom toe ek is van Suid-Afrika en skielik, soos Casper sal sê, soos magic, gebeur daar iets. Weereens is daar 'n verandering in die ruimte-tyd kontinuum en ek kan voel hoe daar 'n pulserende energie-golf by my haarkapper begin en soos 'n atoombom deur die salon trek. Ek kan voel hoe die atmosfeer verander en met 'n ongekende opgewondenheid begin hy my te vra oor die land. Hy vra oor die world cup van 2010, hy vra oor die lewe in SA, oor die wisselkoers, oor verblyf, oor visums, oor wildlewe, oor die natuur. Hy noem dat dit nog altyd sy droom was om Suid-Afrika toe te gaan. Ons gesels later so lekker met die man dat dit lyk of hy sonder om te dink die knipper in my hare druk, en siende dat ek nie myself kan sien nie, besluit ek maar om in my nuwe vriend se vaardighede te vertrou (met die wete dat hare darem weer kan teruggroei). Ek ontdek toe later dat hy van Jamaica kom, van Montego Bay. Hy bly al 10 jaar in die VSA. En na nog 'n tyd van gesels is hy klaar met my, en hy draai die stoel sodat ek my hare kan sien. Ek sukkel om te fokus... Dit lyk... dit lyk... dit lyk... kort. Eenvormig kort, soos wat hy die man voor my se donsies gesny het, maar glad nie (te) sleg nie. Ek kan darem nog nie my kopvel sien nie, en die meeste hare lê darem plat en daar is geen happe (waarvan ek weet nie.) Ek bedank die man, betaal hom (met die gebruiklike tip - totaal net so oor die R100), en ek skud sy hand. "Hope to see you in 2010 in the same stadium supporting the same team" sê hy vir my toe ek wegstap... "I'll see you much sooner than that" sê ek vir hom, en maak die internasionale teken vir 'n skêr met my vingers en bring die vingers na my kop, en met dit stap ek weer my nuwe wêreld binne, baie dankbaar vir dit wat ek vandag kon kry.

Hiermee saam die before and after fotos...




(Ek het toevallig diesefde kleur hemp aan op albei fotos...)


*Voetnote: Die grys stof wat sporadies en sonder verduideliking op my badkamer vloer verskyn het, het ek ontdek is die fenomeen van 'stof'. Dit waarteen oumas, moeders en liesbette 'n konstante oorlog voer. Die herkoms daarvan is ietwat duister, maar ek vermoed die teenwoordigheid daarvan kan direk gekoppel word aan die hoeveelheid tyd wat verloop het sedert daar 'n besem of (toevallige benaamde) "stoflap" met die oppervlakte kontak gemaak het. Aangesien my woonstel 'n geseëlde eenheid is, het ek vir 'n tydperk gewonder waarom die stof juis hier vergader en het toe besef dat daar 'n ventilation inlet in die badkamer inkom en dat dit onder andere die stof toegang gee tot my woonplek. Ek het ook 'n ventilation inlet in my kamer, maar die teenwoordigheid van 'n mat in my kamer verseker dat die teenwoordigheid van stof nie tot my (manlike student) bewussyn deurdring nie, en totdat ek nie soos 'n Spaanse bul stof opskop wanneer ek uit die bed klim nie, sal ek die moonlikheid van stof op my mat ignoreer...

Ek het nog 'n paar stories, maar dit sal moet wag tot 'n ander dag. Ek laai om mee af te sluit 'n foto van MIT se dome op. Hierdie is die mees bekende aansig van MIT en dit is ook waar al die gradeplegtighede plaasvind (op die grasperk). Dit is elke student se uiteindelike doelwit om oor die verhoog te stap met die dome in die agtergrond (en minimale studieskuld in die agtersak. Ek aanvaar tjeks en kontant...) Gedurende die nag word die dome verlig en dit is baie ver sigbaar. Ek was beindruk toe ek dit die eerste keer in die nag sien, en wou dit met julle deel. (Kliek op die fotos om dit groter te maak.) Dankie dat jy/julle hier lees, ek waardeer die belangstelling.