Friday, April 3, 2009

Lyding

Die hitte is oorweldigend. Ek voel my neusholtes brand soos die warm lug deur my lugwee tot in my longe stoot. Ek kan nie beweeg nie. Terwyl die sweet my aftap gooi hy nog ‘n koppie water op die kole. Sekondes later slaan die stoomwolk my in die gesig. Ek probeer om my asem op te hou om die hitte buite my liggaam te hou, maar soos die vuurwarm stoom teen my kaal bolyf opstoot weet ek dit is net ‘n kwessie van tyd. Asem… ek kort asem, koue, verlossing, bevryding van hierdie pyn, maar soos ek uitasem weet ek die volgende teug bring my niks nader daaraan. Wanneer is dit die einde…

Hoe lank was dit al? In die skadu van die kamer maak ek nog figure uit. Die enkele venster in die dak laat slegs ‘n effense lig deur, en soos die deur sonder ‘n handvatsel oopswaai kan ek uitmaak dat hy nog daar is. Dat hy nog ‘n skep water op die kole gooi. Dit voel soos ‘n ewigheid…

Ek staan op. My bene is in loodblokke, geketting aan die vloer. Ek moet loop, elke tree veg ek teen ‘n onsigbare vyand. Hierdie wolk is my vyand wat my terugdruk teen die rowwe houtbalk. Nee, nie langer, ek breuk deur die wolk en stamp die deur oop. Die kettings moet af. Die lig buite raak duideliker en ek kan meer figure begin uitmaak. Kan ek dit tot daar maak voordat dit my inhaal? Ek strompel vorentoe, my lyf brand. Ek kyk af na my arms, rooi van die marteling, brandend soos vuur – ‘n vreemde vuur soos nog nooit vantevore. ‘n Vuur wat van binne af brand, wat my binnegoed van binne verteer totdat net die droee buitenste dop oorbly. Het hulle my weggekook? Is al wat oorbly hierdie sopwese? Sopbene met ‘n taaierige vel, op ‘n skeppie rys saam met soetwyn? Ek moet myself regruk om dit hierdeur te maak. Ek weet dit kan nie meer te ver wees nie. Die stoom is nie meer my vyand nie, dit is nou net ek teen myself. Dit is stremmend om aan die nuwe lig gewoond te raak, maar deur die wasem sien ek die silwerpyp wat ek weet verlossing beteken. Ek strek uit en voel die koue hefboom ongemaklik in my hand. My hele lyf bewe soos wat ek stry om myself regop te hou. Met al my krag leun ek daarteen en voel hoe dit stadig begin beweeg. Net nog ‘n bietjie, amper. Ek hoor iets. Die yskoue ontploffing volg.

Sauna in Helsinki…