Thursday, December 13, 2007

Sneeu!

So tussendeur die 4ure se slaap per nag (dit is die maksimum wat ons dosent voorgestel het) wou ek net iets oplaai om te wys my dae bestaan nie net uit studio nie. Eerstens ons het die ander aand tot 12uur met ons dosent gekrit en moes toe kos bestel - het lekker geeet...
Tweede foto, hoe ek myself beskerm...
Derde groep fotos verduidelik waarteen ek myself moet beskerm...

Groete,
G

Thursday, November 15, 2007

Kan mens dit glo...

So met al die gepraat oor Thanksgiving wat oppad is hoor ek van 'n tradisionele Amerikaanse 'produk' genaamd "turduken". Uitgespreek "tur-dukin" en nie "turd-ukin" nie. Dit behels die plaas van 'n hoender binne 'n eend en die twee saam binne 'n kalkoen. Hierdie drie musketiers word dan saam in die oond gestop en gedurende die ete geskied 'n proses wat konseptueel iets tussen oop hart chirurgie en die geboorte van klein hondjies voorstel. Vir 'n oomblik (a.g.v. min slaap) was ek met afgryse vervul totdat ek besef dat die 3 geveerde vriende van hulle aardse kettings verlos word voordat hulle die pad van die "NP se vereniging met die ANC" volg. Ek hoor egter dit is steeds beter om nie deel te wees van die proses van voorbereiding nie. Ek moes dit net noem.

Saturday, November 3, 2007

Net 'n vinnige post...

Net 'n vinnige post om te sê ek leef nog en dinge gaan goed - baie besig, maar goed. Ons gaan more New Haven toe (daar waar Yale is) om geboue te kyk en daarna lê daar maar 'n baie besige week voor. Besig beteken dinge soos min tot geen slaap vir 'n ruk asook spesifieke gevalle waar ons studio dosent ons op Sondagaand 21:45 laat studio toe kom en ons eers 2:00 Maandagoggend daar uitstap, net om weer maandag klas te hê... Genoeg om te sê ek kan nie meer wag vir 'n vakansie nie. Net as bewys dat ek dit nie erger laat klink as wat dit is nie - hiermee saam 'n foto wat ek geneem het tydens die krit van ons laaste projek. Duidelik is ek nie die enigste student wat hard werk nie (nee, hulle bid nie)...

Ten spyte van hierdie dinge vind ek die tyd hier sover baie waardevol. Ek leer baie en geniet dit oor die algemeen - so moenie bekommer nie - ek is fine. Ek sal sodra dinge rustiger begin gaan nog 'n paar fotos oplaai saam met 'n paar minder ernstige en meer humoristiese stories. Laat dit goed gaan... Ek gaan nou slaap. Yipee!

Monday, October 22, 2007

Die Snit waaroor ons nie praat Exter in kontras daarmee

Uiteindelik weer 'n nuwe post op my blog... Soos afgelei kan word gaan dit nogal besig aan hierdie kant. Studio hou ons besig en dan word daar vir lekkerte 'n skaal 1:1 snit deur 'n 30 voet gebou ingegooi net om seker te maak ons leer nie te hard aan die eksamen nie. Sover gaan alles darem nog goed, en omdat ek graag vanaand wil slaap het ek besluit om net 'n vinnige post op te laai. Ons gaan more na die International Masonry Institute waar ons meer oor Masonry gaan leer. (Nee Willie, nie Free Masonry nie, net gewone Masonry - hier is min Freedom aan die kant...) Klink my ons gaan bietjie messel en 'arches' bou ens. (Ons is mos archi-tects) Klink opwindend - ek moet darem bietjie avontuur vir my $60 000 per jaar klasgeld kry...

Die fotos wat ek oplaai is van ons besoek vandag aan die Exeter Library. Enigiemand wat iets van argitektuur weet behoort saam te stem dat hierdie werklik een merkwaardige gebou is. Ontwerp deur Louis Kahn is hierdie 'n uitstekende voorbeeld van 'n gebou gebasseer op klassieke beginsels in 'n moderne styl en gebou met moderne materiale. (Modern in die sin van die styl en nie kontemporêr - die gebou staan al omgeveer 40 jaar.)
Ek laai ook proses fotos op van ons 30 voet snit deur die MIT Chapel (ontwerp deur Saarinen). Ons het die 'materiality' van die gebou ondersoek en 'rubbings' van die stene gemaak. Aangesien die gebou omring is deur water het ons die nabygeleë muur 'gerub' om die effek te kry. Dit was nie die mees suksesvolle voorstelling nie, maar dit was die lekkerste een...
In skaamte, die volgende:
Ek het die springbokke in aksie gemis... Ek was in 'n studio klas vanaf 11 die oggend tot 4 die middag (op 'n Saterdag)... Wat mens nie alles opoffer vir geleerdheid nie...
Goed gaan verder en groete (Mis julle).



































Ons 30 voet snit uitgestal in MIT se hoof ingang. Die lelike dun een aan die regterkant is ons s'n. Dit is soos 'n oom in die tronk of 'n lelike hond - praat nie te veel oor hom nie alhoewel ons hom baie liefhet... MIT se beroepsveiligheid mense het minute nadat ons snitte opgehang is ons dosent kom berispe omdat sy nie die 'nodige kanale' gevolg het om ons goed hier op te hang nie. "Iemand kon seergekry het..." (Ok, dit is welbekend dat MIT gereeld gedagvaar word vir enigiemand wat vir enige rede seerkry. Dit is afterall Amerika...)

Die binnekant (en buitekant) van die Chapel. Die gebou sit in 'n poel water en wanneer die son skyn weerkaats dit op die water en skyn dit in die gebou in (dit het horisontale vensters wat lig vanaf onder inlaat) en gooi dit ligpatrone teen die kurwes van die mure. Die son het nie die dag so lekker geskyn nie.

Friday, October 5, 2007

My klasmense en die polisie.

Ek kon nie anders as om die ander dag die geleentheid te gebruik om die een TA (Teaching Assistant) te vra om 'n foto van ons te neem terwyl ons op MIT se trappe sit nie nadat Dave dit voorgestel het nie. So nou kan julle uiteindelik sien hoe die mense lyk wat saam met my swot.

So, miskien moet ek hulle gou voorstel. Kliek op foto vir 'n groter weergawe. Net hulle name, van waar hulle kom (rofweg) en dan so ietsie ekstra. Heel regs is Massoud vanaf Iran, regtig 'n goeie ou. Ek gesels lekker met hom, hy is baie musikaal en fluit baie mooi (Hys regtig goed). Sy tekening is ook baie goed. Regs van hom is Chai, ek het vergeet van waar hy kom.. Langs hom in J.K. (afkorting vir Jae Kung of so iets), hy kom vanaf Korea en sukkel somtyds met die engels, maar sy engels, soos myne, word elke dag bietjie beter. Skuins onder hom is Sarah. Indien ek reg onthou kom sy van New York. Onder haar sit ons Precedent Analysis dosent. Sy kom vanaf Harvard en publiseer 'n Argitektuur tydskrif. Bo Sarah sit Dave. Hy het chemie studeer en het vir 'n paar jaar wapen navorsing vir die Amerikaanse regering gedoen, en tonne geld gemaak. Hy was 'n paar keer in Irak vir navorsing en toe ek ons eendag oor sy vorige werk gesels, vra ek hom waar hy die inligting gekry het waaroor hy navorsing gedoen het (wapen vervaardigers, raadgewers, ens.) Sy antwoord was net "That my friend I cannot tell you..." Hy is my buurman in die studio. Langs Dave sit Oliver, oorspronklik vanaf Duitsland, maar hy woon al vir etlike jare saam met sy meisie, Angela in die omgewing. Ons het die ander aand by hulle huis ge-barbecue (vegetarier patties...) Bokant Oliver sit Lisa. My buurvrou oorkant die paadjie. Sy het vir 3 jaar in New York gewerk in 'n interieur ontwerp rigting en het toe weer kom swot. Sy ry elke naweek Yale toe want haar "boyfriend" studeer Argitektuur by Yale. Langs Lisa sit daar iemand wat julle almal hopelik herken, skuins onder hom sit Josef. Ek vermoed hy is ook vanaf die VSA, kan nie lekker onthou nie. Hy is baie vriendelik en ek en hy gesels elke paar dae lekker as ons mekaar erens raakloop. Skuinsbo Josef sit die ander Lisa. Sy't siviele ingenieurswese geswot en ek vermoed sy is baie slim. Op die trappe lê een van my gunstelinge: Slobo oftewel Slobodan. Hy kom van Montenegro. Ons het die ander dag lekker oor middagete oor ons onderskeie lande se geleenthede en probleme gesels. Ek geniet hom, want hy is baie ontspanne en informeel. Na aanleiding van een van sy eerste kritte kla hy by my oor sy idees wat radikaal van sy dosent s'n verskil. Ek noem toe vir hom om te luister na wat hulle sê en dan vir homself te besluit of dit inpas by wat hy wil doen, en dan na aanleiding daarvan te doen wat hy wil. Sy reaksie "Yes, I agree, but to you I can say Fuck you, and it won't matter, but to them not, they are the ones that finally decide." Van toe af geniet ek sy geselskap baie meer. Langs Slobo sit Leslie, ook vanaf die VSA. Syt ons anderdag 'n lift gegee na Oliver se huis, en solank ek leef wil ek nie weer saam met haar ry nie. Dit was nogal traumaties. Oor die algemeen 'n goeie mens wat letterlik op my skouer kom huil het nadat haar werk nie klaar was toe sy moes ingee nie, en ook 'n keer in die Building Technology klas langs my aan die slaap geraak het (ek was wakker maar ek kon nie my verbasing keer om te sien hoe iemand aan die slaap raak terwyl hulle skryf en dan sulke snaakse patrone op hulle bladsy teken nie). Haar "boyfriend" kom loer ook gereeld in en op 'n keer het haar ma en pa saam met die hele familie kom kyk waar ons studeer. Agter Leslie is Buck, nog een van my favourites. Hyt aan die begin van die jaar 'n tipe lime disease ontwikkel en moes toe hospitaal toe gaan. By MIT medical het hulle hom medisyne vir "seasonal allergies" gegee wat natuurlik nie veel gehelp het nie. Hy was so twee dae in ICU en het toe so rukkie later weer ons in die studio kom join. Hys ook een van die super slimmes en ek weet hy sal dit groot maak - hy is ook vanaf die VSA. Agter hom staan Natsuki (spelling) vanaf Kanada. Haar "boyfriend" is êrens in Italie besig om sy studies in Argitektuur te voltooi. Langs haar staan Robin, een van die jongste mense in die klas. Ek dink hy is rondom 23 en is ook van die VSA. Hy't iets in die kunste studeer, en ek sukkel nog om hom te plaas. Hy is ietwat van 'n wildcard maar oor die algemeen vind ek hom baie interessant. Heel laaste kry ons vir Tim, ook vanaf die VSA. Hy het iets in kuns teorie on kuns geskiedenis studeer. Op die fotos mis ons twee mense, Pam vanaf Kanada en Chee vanaf êrens in die ooste. Nou weet julle ook met wie ek my spasie elke dag moet deel. (en nog vir die volgende 3 jaar...)

Die laaste foto vir vandag is een wat ek al lank sukkel om te kry. Meeste mense weet ek het die hoogste respek vir persone in gesagsposisies asook persone wat daardie gesag, en wet en orde met die mag van die swaard (of pepperspray) beskerm - veral die mans en dames in diens van kampus veiligheid by Kovsies. {vir sensor doeleindes het ek hier 'n lang paragraaf uitge-edit} (Campus Police officers het almal minimum 3 jaar diens in plaaslike of "State" polisie dienste en word streng gekeur.) Wat ek egter kan aanbeveel is dat die geregsdienaars op kovsie kampus 'n les moet leer by die MIT Campus Police. Hou op om vriendelik en behulpsaam te lyk - bou bietjie aan julle image. Kry univorms en handwapens wat vrees in die harte van elke krimineel, of dronk student wek. Kry badges, buckels en boots. Kry sonbrille en shoulder mounted radios. Bêre julle fietse en kry "bikes" en indien julle nie hierdie raad wil volg nie, doen asseblief net een ding, kry 'n kar soos die een - dit sal alles beter maak... (Voel ek 'n MIT Vice aankom?)















Kliek op foto vir 'n groter weergawe

Saturday, September 29, 2007

Die storie van die hare...

Ek besluit mos toe erens gedurende verlede week dat dit tyd raak om my hare te sny. Ek is alreeds langer as 'n maand hier en my hare het vinnig gegroei, soveel so dat ek sukkel om dit elke oggend onder beheer te kry. Dit was op daardie stadium waar dit net te lank was om te gel (sonder om soos Jak de Priester te lyk (alhoewel dit goed lyk by hom)) en nog heeltemal te kort om soos die misverstaande argitektuurstudent te lyk. Die enigste probleem is dat ek nie 'n idee het waar om my hare te laat sny nie, en soos die werk meer word, en die tyd minder, raak die haarsny se posisie op die lys van prioriteite al hoe laer en gaan lê dit uiteindelik net bokant "vind uit vanwaar die vreemde grys stof in die badkamer vandaan kom". (Dit is baie laag op die lys (sien voetnota)). Vandag, oppad na die Carpenter Center loop ek verby 'n plekkie, half weggesteek tussen economy hardware en 'n koffiewinkel, wat homself uitgee as "salon" ("walkins welcome!" lees die bordjie in die venster (Kon nog verstaan of 'walkins' en 'inloop' maw 'hy het my ingeloop, dit is waarom ek sy budgie verinneweer het' iets in gemeen het nie...). Ek besluit toe om oppad terug daar 'n draai te maak. Ek stap 'n uur later daar in en besef dadelik iets lyk nie heeltemal reg nie... Ek kon nie my vinger daarop plaas nie, maar iets was definitief anders hier... Ek staan toe maar eers vir 15 sekondes half verward rond opsoek na die ontvangs toonbank (soos wat ek altyd by Maison Costa gesien het) en besef dat hier niemand is wat gaan vra "Kan ons u help...". Ek maak toe maar kontak met een van die haarkappers. Ek stel myself voor as 'n 'walkin' en maak die internasionale teken vir 'n skêr met my vingers en bring die vingers na my kop (Binne die spesifieke konteks het ek gehoop hy verstaan dat ek wil hê hy moet my hare sny). Half onvriendelik beduie hy vir my om op die bank, half weggesteek agter die deur, te gaan sit en wag. Ek sien hy is besig met 'n man se hare en daar wag nog 3 klein seuntjies ook in die ry om hulle hare te sny. (Dit was seker pa en seuns se uitstappie na die haarkapper). Ek gaan sit maar daar en blaai deur die tydskrif met die cartoons in (die enigste ander een het oor celebrities gegaan, en cartoons is altyd meer opvoedkundig...). Meteens word ek bewus van die hifi wat hier langs my dreun en binne 'n oogwink word ek verplaas (deur tyd en ruimte) na die Thakaneng brug ('Die plek waar mans en dames studente (in 'n gees van eensgesindheid, akademiese voortreflikheid en nasiebou) saamkom om te leer en te sosialiseer'). Ek besef dat ek nie 'n woord van die musiek verstaan nie - dit klink soos een of ander Afrika taal, maar dit is mos onmoontlik! Hoe kan ek, meer as 22 ure se vlieg vanaf my tuisland, musiek hoor, gesing deur 'n tradisionele kollega in sy tradisionele taal. Musiek so hard, ritmies aanhoudend en eentonig dat dit jou tandpyn kan gee... Ek word meteens bewus van die kaart van Jamaika teen die muur en soos mis voor die son (of Afrikaners op kovsie kampus) verdwyn my onsekerheid oor wat hier aan die gang is. Ek merk op dat ek die enigste persoon in die salon is wat se voorouers moontlik van Germaanse afkoms kan wees. My hare is die enigste wat reguit groei, en tussen al die mense weet ek dat my vel pigment benadeeld is. Die legkaart stukkies val in plek... Die seuntjie op die stoel se 'afro' word stuk vir stuk afgeknip op 'n wyse wat my aan Keith Kirsten se vernuftig hantering van 'n snoeiskêr op 'n Saterdagoggend tuinbou klub tee laat dink. Die man op die ander stoel se donsies val sagkens op die vloer en ek sien hoe die wind dit (saam met die blare van buite) verder die winkel inwaai tot aan die voete van 'n vrou wat besig is om straightener aan 'n klient se kop te smeer... Tot die skrif wat gebruik is om die salon se naam teen die vernster te verf lyk skielik vir my etnies van aard... Hoe kon ek dit mis... Hierdie plek is seker nie heeltemal vir my bedoel nie - ek bedoel, hoe gereeld gebeur dit dat iemand met sy lang golwende donkerblond lokke en baby blue 'MIT Federal Credit Union' (dit was wit voordat ek dit saam met die blou Made in India-hemp gewas het) hier instap. Die vuil kyke maak sin - and to add insult to injury gebruik die MIT man primitiewe vingertaal en 'n kombinasie van brom geluide (my gebroke engels) om vir 'n haarsny te vra. (Klink soos Tintin in the Congo...) Ek besluit toe maar om die beste gebruik te maak van die geleentheid en myself bloot te stel aan 'n deel van Amerikaanse kultuur wat ek nog nie geken het nie... en met dit is dit my beurt... Ek gaan sit tussen my vorige kliënt se donsies en die mantel word omgehang. Die stoel kan 360 grade draai en ek word weggedraai vanaf die spieel. Hy vra my hoe ek my hare wil hê en ek probeer te verduidelik, met die hoop dat alles sal uitwerk. Skielik begin daar teen 'n skrikwekkende spoed aan my hare gesny - met die knipper. Ek sien hoe my Eurpoese lokkies een vir een op die grond neer plof, en 'n klein geintegreerde Suid-Afrika saam met al sy ander donsie maatjies op die vloer vorm. Ek moet op gevoel staatmaak om te weet wat die man doen, want ek is weggedraai vanaf die spieel - Toe hy die skêr naderbring dink ek by myself Kersfees het vroeg gekom hierdie jaar want watookal gebeur ek gaan 'n geskenk kry vandag - ek gaan of die geskenk van my balans, gehoor en die vermoë om oorbelle te dra behou terugkry, of my bloeiende oor in 'n sakkie... Halfpad deur vra hy vir my of ek 'n student by MIT is... (My MIT Federal Credit Union t-hemp het dit seker nie weggegee nie...). Ek antwoord sy vraag bevestigend. "Don't burn out your brain..." kom sy antwoord. Hy mompel nog iets van 'the best school in the world..." en ek besluit om hom van my 'world' te vertel. Ek vertel hom toe ek is van Suid-Afrika en skielik, soos Casper sal sê, soos magic, gebeur daar iets. Weereens is daar 'n verandering in die ruimte-tyd kontinuum en ek kan voel hoe daar 'n pulserende energie-golf by my haarkapper begin en soos 'n atoombom deur die salon trek. Ek kan voel hoe die atmosfeer verander en met 'n ongekende opgewondenheid begin hy my te vra oor die land. Hy vra oor die world cup van 2010, hy vra oor die lewe in SA, oor die wisselkoers, oor verblyf, oor visums, oor wildlewe, oor die natuur. Hy noem dat dit nog altyd sy droom was om Suid-Afrika toe te gaan. Ons gesels later so lekker met die man dat dit lyk of hy sonder om te dink die knipper in my hare druk, en siende dat ek nie myself kan sien nie, besluit ek maar om in my nuwe vriend se vaardighede te vertrou (met die wete dat hare darem weer kan teruggroei). Ek ontdek toe later dat hy van Jamaica kom, van Montego Bay. Hy bly al 10 jaar in die VSA. En na nog 'n tyd van gesels is hy klaar met my, en hy draai die stoel sodat ek my hare kan sien. Ek sukkel om te fokus... Dit lyk... dit lyk... dit lyk... kort. Eenvormig kort, soos wat hy die man voor my se donsies gesny het, maar glad nie (te) sleg nie. Ek kan darem nog nie my kopvel sien nie, en die meeste hare lê darem plat en daar is geen happe (waarvan ek weet nie.) Ek bedank die man, betaal hom (met die gebruiklike tip - totaal net so oor die R100), en ek skud sy hand. "Hope to see you in 2010 in the same stadium supporting the same team" sê hy vir my toe ek wegstap... "I'll see you much sooner than that" sê ek vir hom, en maak die internasionale teken vir 'n skêr met my vingers en bring die vingers na my kop, en met dit stap ek weer my nuwe wêreld binne, baie dankbaar vir dit wat ek vandag kon kry.

Hiermee saam die before and after fotos...




(Ek het toevallig diesefde kleur hemp aan op albei fotos...)


*Voetnote: Die grys stof wat sporadies en sonder verduideliking op my badkamer vloer verskyn het, het ek ontdek is die fenomeen van 'stof'. Dit waarteen oumas, moeders en liesbette 'n konstante oorlog voer. Die herkoms daarvan is ietwat duister, maar ek vermoed die teenwoordigheid daarvan kan direk gekoppel word aan die hoeveelheid tyd wat verloop het sedert daar 'n besem of (toevallige benaamde) "stoflap" met die oppervlakte kontak gemaak het. Aangesien my woonstel 'n geseëlde eenheid is, het ek vir 'n tydperk gewonder waarom die stof juis hier vergader en het toe besef dat daar 'n ventilation inlet in die badkamer inkom en dat dit onder andere die stof toegang gee tot my woonplek. Ek het ook 'n ventilation inlet in my kamer, maar die teenwoordigheid van 'n mat in my kamer verseker dat die teenwoordigheid van stof nie tot my (manlike student) bewussyn deurdring nie, en totdat ek nie soos 'n Spaanse bul stof opskop wanneer ek uit die bed klim nie, sal ek die moonlikheid van stof op my mat ignoreer...

Ek het nog 'n paar stories, maar dit sal moet wag tot 'n ander dag. Ek laai om mee af te sluit 'n foto van MIT se dome op. Hierdie is die mees bekende aansig van MIT en dit is ook waar al die gradeplegtighede plaasvind (op die grasperk). Dit is elke student se uiteindelike doelwit om oor die verhoog te stap met die dome in die agtergrond (en minimale studieskuld in die agtersak. Ek aanvaar tjeks en kontant...) Gedurende die nag word die dome verlig en dit is baie ver sigbaar. Ek was beindruk toe ek dit die eerste keer in die nag sien, en wou dit met julle deel. (Kliek op die fotos om dit groter te maak.) Dankie dat jy/julle hier lees, ek waardeer die belangstelling.


Saturday, September 22, 2007

Nog 'n paar fotos...

Ek het uiteindelik tyd gekry (eintelik tyd gemaak) om nog 'n paar fotos op te laai. Dit gaan nogal besig met my aan die kant aangesien ons al hoe meer projekte, take en toetse kry om aan aandag te gee. Die eerste foto is die brug wat ons ontwerp het. Die oefening was om papier te vou om 'n brug te vorm wat 30 voet sou span (op skaal) en wat beide die terrein se verskillende hoeke (horisontaal en vertikaal) hanteer. In die agtergrond is die plan van hoe die brug uit papier gevou kan word.








Hier is hoe dit binne in die brug lyk. Ek moet erken dit lyk baie beter van binne as van buite...












Vandag was hier 'n 'international festival' by Sidney-Pacific. Dit bestaan uit klomp optredes van verskillende nasies (danse uit Indië en Japan, Chinese musiek, meksikaanse orkes ens.) Soos met alle goeie byeenkomste is dar altyd gratis kos - iets waarvoor ek glad nie meer nee sê nie. So paar weke terug was dit dieselfde tipe ding net met nageregte vanuit verskillende lande - skielik word poeding die hoofmaal... Vandag by die festival het die Studente verening vir studente uit Japan aangebied om ons name in Japanees (spelling?) te vertaal. Myne (Sonder die regte uitspraak, natuurlik) beteken Talent/Art, Spring, Person. Seker heel gepas vir 'n argitektuurstudent...
Hierdie is soos my kamer vanaf die venster se kant lyk. Dit is nogal groot vir 'n bachelor's flat, maar klein vir die prys wat ek betaal... Links onder is my nuwe rekenaar en dit is duidelik dat ek nog moet beddegoed koop aangesien ek nog heeltyd in my slaapsak slaap.










Hierdie is vanaf die 'voordeur' van my kamer.















Die uitsig vanuit my kamer se venster. Ek kyk uit op die binnehof van ons kompleks. Teenaan die teenoorgestelde muur word daar somtyds 'n skerm gehang (3 verdiepings hoog) en dan word daar 'n fliek gewys.











My eerste klas op Vrydae het hierdie pragtige uitsig oor die Charles rivier. Cambridge is aan hierdie kant van die rivier, Boston is aan die ander kant. Op 'n mooier dag is die uitsig baie beter.











'n Spesiale foto om te wys hoe 'n projek krit by ons lyk. Almal sit en almal luister... Kan nogal senutergend raak, maar werklik ook een van die beste leergeleenthede ooit. Tydens hierdie krit is Dave besig om sy ontwerp te verduidelik.











Een van die vele geboue van argitektoniese belang in die Boston/Cambridge omgewing. Hierdie is Le Corbusier se Carpenter Center op Harvard se kampus. Dit was (in essensie) sy enigste gebou in die VSA en ook een van sy laaste geboue. Ek moet nog vir woensdag begin om 'n 'exploded axonometric' teken van hierdie gebou vir 'n analise wat ons moet doen.









In die agtergrond, Frank Gehry se Stata Center op MIT se kampus. ek sal later beter fotos hiervan oplaai.













Net so entjie weg vanaf Frank Gehry se objek is I.M. Pei se gebou. Die hoogste in Cambridge. Cambridge het 'n munisipale regulasie dat 'n gebou nie hoër mag wees as 'n seker aantal verdiepings nie. Om hierby verby te kom het I.M. Pei elke verdieping effens hoër gemaak... Terwyl hy binne die voorgeskrewe aantal verdiepings bly, is sy gebou hoër as die res. Twyfel bestaan daaroor of die munisipaliteit ooit weer 'n gebou hoër as die een sal goedkeur...














Die ingang van MIT se hoofgebou. 'n Hele aantal departemente word hierin gehuisves, asook verskillende administratiewe dienste. Anderster as sekere ander universiteite waarvan ek weet, word hierdie historiese 'hart van die kampus' nie vir verspotte bedrae heringerig vir die topbestuur nie. Die huisves van verskillende departemente in een gebou skep nie net geleentheid vir interdissiplinêre dialoog en navorsing nie, dit skep ook die gevoel van akademiese eenheid. Hierdie is die ingang waar ek elke dag by ingaan.







Laastens, maar definitief nie die minste nie. Net links van die hoofingang is hierdie gebou, School of "Architectvre". Die plek waar ek die meeste van my tyd tot dusver deurgebring het... ('n Skimp aan topbestuur in Bloem: Die argitektuur skool word in die hoofgebou gehuisves...)