Dit is seker weer hoogtyd dat ek weer iets op my Blog post. Die doel van die Blog was om mense maklik in kennis te stel van wat ek doen, en indien jy die laaste paar dae kom kyk het vir 'n nuwe post kon jy seker aflei dat ek niks gedoen het nie... (een of ander logiese verband daar...) Die waarheid is egter die teendeel...
Ek kan nie meer presies onthou wat ek op watter dag gedoen het nie aangesien alles vir my soort van 'n blur is. My blur is egter nie alkohol geinduseer soos die meerderheid van studente se 'blurrs' nie. Ek vermoed my blur is grootliks te danke aan 3 faktore: nl. die aanpassing by 'n ander tydsone sowel as die volg van 3 afsonderlike programme om betyds (en nog meer belangrik, by die regte plek) by orientasies uit te kom. 3 programme aangesien ek georienteer moet word as internasionale student, 'graduate' student sowel as argitektuur student. Die grootste faktor wat bygedra het tot my blur is die aanleer van 'n onaangename hoeveelheid name. Ek het myself voorgeneem om vir 'n verandering moeite te doen met mense se name. Ek ontdek toe mos dit is eintlik heel eenvoudig om mense te name te leer, die belangrikste is dat jy moet luister wat hulle name is wanneer hulle hulleself voorstel, en ophou worry of netnou se orientasie broccoli nog in jou tande sit, en of die tandepaste kol nog erens op jou hemp sigbaar is. Rondom maandag het die name begin - eerstens het ek heel toevallig 2 Suid-Afrikaners ontmoet. Rudolph (van Pretoria hy studeer, as ek deur my blur reg onthou Aero en Astro - dis ingenieurswese leer ek toe ook later) en Claire (van 'Cape Town' in die S.March.S of soos ons dit hier ken die 'Smarks' program. Dit is die M in Argitektuur wat jy doen wanneer jy klaar 'n professionele graad in Argitektuur het). Vandat ek die Suid-Afrikaners ontmoet het kom die name vinnig en skielik, Ricardo, Iton, Carniver (nee, nie 'n vlees vretende dier nie, dit is karnivoor? alhoewel die assosiasie lekker werk), Dave, Junno, Adam, J.K. (afkorting van 'n naam wat ek steeds nie ken nie), Pam... Dit hou net aan. Francesco, Oliver, Laura... (En dit is net die name wat ek nou skielik kan onthou, daar is seker nog honderde, nee, meer soos duisende...) Ek begin voel hoe my mond droog raak toe ek met die mense van oosterse afkoms se name begin... In die gevalle waar ons nametags kon dra het dit darem gehelp, maar die dialoog loop gewoonlik so in die ander situasies...
{M.I.T. is baie groot op afkortings (en as jy die vorige sin weer lees sal jy dalk glimlag) so ek het besluit om my nuwe vriende ook 'n afkorting te gee: Die volledige benaming van my nuwe vriend is 'Vriend van oosterse of nie-oosterse afkoms wie se naam die Afrikaans en Engels magtige Suid-Afrikaner telkens ontglip in die hitte van die oomblik, oftewel VvOoNoAWSNDAeEMSATOIDHVDO. 'n verkorte weergawe van die afkorting is
Vonadae Msatoidho.
Terug na die gesprek:
Ek: 'Hello...'
Vonadae Msatoidho: 'Ghello...'
Ek: 'Wat is jor name...' (Klem op die Suid-Afrikaanse aksent...)
Vonadae Msatoidho: 'Vonadae Msatoidho...'
Ek: 'Okey... How doe joe spell it...?'
Vonadae Msatoidho: Vee, u, ng a, t, y, i, M, s (by die s voel ek die einste broccolli teen my wang soos Vonadae Msatoidho vir my met passie sy naam spel), u, t, e, t, h, o - want as jy ooit gedink het 'n aksent kan kommunikasie bemoeilik, het jy nog nooit gehoor hoe Vonadae Msatoidho sy eie naam met 'n aksent spel nie - dan tref dit my ek wil mos mense se name leer, so ek moet nie net leer om die woordeboek naam uit te spreek nie, ek moet nog op een of ander manier 'n assosiasie daarmee maak sodat ek dit kan onthou en net daar is ek gereed om myself na die gratis wyn te wend...
To be continued...