Thursday, November 15, 2007

Kan mens dit glo...

So met al die gepraat oor Thanksgiving wat oppad is hoor ek van 'n tradisionele Amerikaanse 'produk' genaamd "turduken". Uitgespreek "tur-dukin" en nie "turd-ukin" nie. Dit behels die plaas van 'n hoender binne 'n eend en die twee saam binne 'n kalkoen. Hierdie drie musketiers word dan saam in die oond gestop en gedurende die ete geskied 'n proses wat konseptueel iets tussen oop hart chirurgie en die geboorte van klein hondjies voorstel. Vir 'n oomblik (a.g.v. min slaap) was ek met afgryse vervul totdat ek besef dat die 3 geveerde vriende van hulle aardse kettings verlos word voordat hulle die pad van die "NP se vereniging met die ANC" volg. Ek hoor egter dit is steeds beter om nie deel te wees van die proses van voorbereiding nie. Ek moes dit net noem.

Saturday, November 3, 2007

Net 'n vinnige post...

Net 'n vinnige post om te sê ek leef nog en dinge gaan goed - baie besig, maar goed. Ons gaan more New Haven toe (daar waar Yale is) om geboue te kyk en daarna lê daar maar 'n baie besige week voor. Besig beteken dinge soos min tot geen slaap vir 'n ruk asook spesifieke gevalle waar ons studio dosent ons op Sondagaand 21:45 laat studio toe kom en ons eers 2:00 Maandagoggend daar uitstap, net om weer maandag klas te hê... Genoeg om te sê ek kan nie meer wag vir 'n vakansie nie. Net as bewys dat ek dit nie erger laat klink as wat dit is nie - hiermee saam 'n foto wat ek geneem het tydens die krit van ons laaste projek. Duidelik is ek nie die enigste student wat hard werk nie (nee, hulle bid nie)...

Ten spyte van hierdie dinge vind ek die tyd hier sover baie waardevol. Ek leer baie en geniet dit oor die algemeen - so moenie bekommer nie - ek is fine. Ek sal sodra dinge rustiger begin gaan nog 'n paar fotos oplaai saam met 'n paar minder ernstige en meer humoristiese stories. Laat dit goed gaan... Ek gaan nou slaap. Yipee!