Friday, August 31, 2007

D.B.T. oftewel Die Blur Toestand

Dit is seker weer hoogtyd dat ek weer iets op my Blog post. Die doel van die Blog was om mense maklik in kennis te stel van wat ek doen, en indien jy die laaste paar dae kom kyk het vir 'n nuwe post kon jy seker aflei dat ek niks gedoen het nie... (een of ander logiese verband daar...) Die waarheid is egter die teendeel...

Ek kan nie meer presies onthou wat ek op watter dag gedoen het nie aangesien alles vir my soort van 'n blur is. My blur is egter nie alkohol geinduseer soos die meerderheid van studente se 'blurrs' nie. Ek vermoed my blur is grootliks te danke aan 3 faktore: nl. die aanpassing by 'n ander tydsone sowel as die volg van 3 afsonderlike programme om betyds (en nog meer belangrik, by die regte plek) by orientasies uit te kom. 3 programme aangesien ek georienteer moet word as internasionale student, 'graduate' student sowel as argitektuur student. Die grootste faktor wat bygedra het tot my blur is die aanleer van 'n onaangename hoeveelheid name. Ek het myself voorgeneem om vir 'n verandering moeite te doen met mense se name. Ek ontdek toe mos dit is eintlik heel eenvoudig om mense te name te leer, die belangrikste is dat jy moet luister wat hulle name is wanneer hulle hulleself voorstel, en ophou worry of netnou se orientasie broccoli nog in jou tande sit, en of die tandepaste kol nog erens op jou hemp sigbaar is. Rondom maandag het die name begin - eerstens het ek heel toevallig 2 Suid-Afrikaners ontmoet. Rudolph (van Pretoria hy studeer, as ek deur my blur reg onthou Aero en Astro - dis ingenieurswese leer ek toe ook later) en Claire (van 'Cape Town' in die S.March.S of soos ons dit hier ken die 'Smarks' program. Dit is die M in Argitektuur wat jy doen wanneer jy klaar 'n professionele graad in Argitektuur het). Vandat ek die Suid-Afrikaners ontmoet het kom die name vinnig en skielik, Ricardo, Iton, Carniver (nee, nie 'n vlees vretende dier nie, dit is karnivoor? alhoewel die assosiasie lekker werk), Dave, Junno, Adam, J.K. (afkorting van 'n naam wat ek steeds nie ken nie), Pam... Dit hou net aan. Francesco, Oliver, Laura... (En dit is net die name wat ek nou skielik kan onthou, daar is seker nog honderde, nee, meer soos duisende...) Ek begin voel hoe my mond droog raak toe ek met die mense van oosterse afkoms se name begin... In die gevalle waar ons nametags kon dra het dit darem gehelp, maar die dialoog loop gewoonlik so in die ander situasies...

{M.I.T. is baie groot op afkortings (en as jy die vorige sin weer lees sal jy dalk glimlag) so ek het besluit om my nuwe vriende ook 'n afkorting te gee: Die volledige benaming van my nuwe vriend is 'Vriend van oosterse of nie-oosterse afkoms wie se naam die Afrikaans en Engels magtige Suid-Afrikaner telkens ontglip in die hitte van die oomblik, oftewel VvOoNoAWSNDAeEMSATOIDHVDO. 'n verkorte weergawe van die afkorting is
Vonadae Msatoidho.
Terug na die gesprek:

Ek: 'Hello...'
Vonadae Msatoidho: 'Ghello...'
Ek: 'Wat is jor name...' (Klem op die Suid-Afrikaanse aksent...)
Vonadae Msatoidho: 'Vonadae Msatoidho...'
Ek: 'Okey... How doe joe spell it...?'
Vonadae Msatoidho: Vee, u, ng a, t, y, i, M, s (by die s voel ek die einste broccolli teen my wang soos Vonadae Msatoidho vir my met passie sy naam spel), u, t, e, t, h, o - want as jy ooit gedink het 'n aksent kan kommunikasie bemoeilik, het jy nog nooit gehoor hoe Vonadae Msatoidho sy eie naam met 'n aksent spel nie - dan tref dit my ek wil mos mense se name leer, so ek moet nie net leer om die woordeboek naam uit te spreek nie, ek moet nog op een of ander manier 'n assosiasie daarmee maak sodat ek dit kan onthou en net daar is ek gereed om myself na die gratis wyn te wend...

To be continued...

Wednesday, August 22, 2007

Boston bekendstelling...

Vandag het Melissa (Die Suid-Afrikaanse, Afrikaanse Au Pair wat ek deur Elserie en Facebook ontmoet het) my op 'n toer van Boston geneem. Behalwe vir die bejaarde man met die donkerbril wat ons vreemd beloer het en toe uitgeroep het "I'm so glad, I'm so glad, I'm so glad I don't know all these people..." was die dag nie te vreemd nie. Ek het geleer hoe om die treine te ry (werk baie soos London s'n, dit is tog per slot van sake dieselfde konsep. Mense wat soos molle teen 'n asemrowende spoed in donker tonnels onder die grond ry - waarlik 'n wenner! {ek weet molle ry nie in tonnels rond nie, maar.... jy verstaan.}). Ek het verder ook heel lekker Thai kos gekoop (Paradise chicken of so iets) vir so ongeveer $13 (vir 2 porsies) indien ek reg onthou, - waarlik 'n belegging in my toekoms. Waarom vra jy, is noodles en hoender 'n belegging in my toekoms?
Dit kan eenvoudig opgesom word in 3 redes: Die sogenaamde 3-eenheid van noodle-beleggings:

1.) Dit was goeie kos. (Dit was twee volle, nie omgewingsvriendelike take-away styrofoam bakkies vol kos (daardie waarin mense gewoonlik Hamburgers en chips koop)) Daar het soveel oorgebly dat ek nog aandete ook daarvan kon neem - en toe is daar steeds 'n klein bietjie oor... (maar later meer hieroor)

2.) Ek weet nou waar om Thai noodles en Paradise chicken te koop teen net $13 vir twee volle, nie omgewingsvriendelike take-away styrofoam bakkies vol. (Die die vrou agter die toonbank se tandbederf is ook nie eers ver gevorderd nie! - 'n Bonus!) 'n Waardevolle bekendstelling aan 'n stukkie Boston cuisine! (Die noodles nou, nie die tannie se tande nie...)

3.) Hier moet julle kophou - Ek ontdek mos toe nou gister dat ek ook 'n food disposer weggesteek in my kombuiswasbak het. Daardie goed waar jy ou kos ingooi, jou hande ver van die gat weghou (behalwe as PPS se ongeskiktheidsplan moet uitbetaal - daar is darem 'n veiligheidsmeganisme wat verhoud dat ek my hand daar kon insit, {net ingeval my makelaar lees}) en dan die knoppie druk, en dan soos Casper sal sê :"En soos magic (en met 'n m@erse lawaai), dan verdwyn daardie kos êrens heen." Niemand weet waarheen, dit verdwyn net. Ek besef toe later hoekom ek soveel bedelaars op die straat sien - niemand gooi kos in asblikke weg nie - so niemand kan soos in SA jou sakke deursoek vir gisteraand se Kentucky nie - want dit het magies verdwyn! Elkgeval, ek wou vandag toe uitvind of my disposer werk, want wat gaan ek doen met die bietjie noodles wat oorgebly het. Ek kan nie 'n derde keer daarvan eet nie (Salmonella en ek was nog nooit goeie vriende nie, en niks gaan dit in die land van Gerry Springer en Riki lake verander nie!), en vries kan ek dit nie want my 14 kubieke cm vrieshokke is alreeds vol die 32 kubieke cm maalvleis en gemengde groente gereg wat ek gisteraand vernuftig gemaak het en in klein bite-size pakkies verpak het - gereed om binne minute op te warm. (ek het eers vanoggend onthou ek het nie 'n mikrogolfoond nie...) Terug na die 3-eenheid belegging, ek kan nie die noodles in die asblik gooi nie, want ek glo in recycling en die kompleks se komposhoop maak eers op 4 september oop (of moet ek sê, die hoop hoop eers op 4 september op, he he he...) so ek besluit toe om te toets of my disposer werk. Ek draai die knop, niks gebeur, ek kyk onder in die kas, daar's 'n klein knoppie, ek druk dit, niks gebeur. Ek draai die knop in 'n ander rigting, niks gebeur. Ek ruk die hele prop uit die wasbak, sit dit terug, niks gebeur... Ek stap later af en gaan vra die vriendelike dame agter die toonbank presies hoe die ding werk. Haar antwoord slaan my stom:"I do not know..." Magtig vrou, ek is nuut hier, ek kon my hand verloor het, ek kon iets uitgebrand het, man wie weet ek kon dalk self toevallig 'n kerntoestel geaktiveer het - ek is die onkundige een, en jy sê vir my jy weet nie?! Sy verwys my toe na die manager van die kompleks... So statige gryskop omie wat my aan Verwoerd in sy jonger dae herinner (nie dat ek weet hoe Verwoerd gelyk het nie, maar indien Verwoerd 'n facilities manager was in plaas van die eerste minister/president? van die eens magtigste land in Afrika dan sou hy so gelyk het - net 'n vermoede) Hy verduidelik toe kortweg wat hy dink ek moet doen. Ek keer toe later terug en gaan peuter nog so rukkie met die masjien se knoppies en knoppe en... wag daarvoor... 'soos magic' woer daar iets binne in my wasbak se maag. (As 'n wasbak 'n maag gehad het sou dit daar gesit het - net 'n vermoede). Dit skommel en skud, die water loop en die yster dier se tande kners. Dit klink soos iets wat die katolieke kerk gebruik het tydens die vervolging van die protestante - dis wonderlik! My masjien werk, ek kan van afval kos ontslae raak! Skoon, eenvoudig, kommervry! SO, die logiese gevolgtrekking:

1 pakkie thai noodles = 'n goeie ete (middag en aand)
'n blootstelling aan Boston cuisine (die noodles nie die tannie)
'n uitstappie na die oom Verwoerd en 'n volle funksionerende disposer.

Net belangrik om te sê, teen hierdie tyd was dit al laat en ek het toe nou nie my noodles in my protestant-onderdrukkende-woer-woer gegooi nie want ek was bang ek maak al die protestante in die kamers lang my wakker - ek was bang hulle sou protesteer...
Elkgeval, dit is die storie van vandag. Dit was nie eintlik die storie wat ek wou vertel nie. (Die een wat ek wou vertel loop soos volg:

Ek het vandag wasgoed gewas in die komplek se wasmasjien en per ongeluk my spierwit Credit Union T-hemp (gratis saam met die oopmaak van 'n spaar rekening) en my 1 paar wit kouse saam met my Meltz 75% afslag 'made in india' donkerblou hemp gewas. Ek het nou 'n baby-blue paar kouse wat pragtig gaan pas by my baby-blue Credit Union T-hemp. (mamma het my altyd gewaarsku...)

Groete

{Weereens dankie aan Melissa en haar ousus Lee-Anne vir hulle vriendelikheid en dat hulle my gehelp het om die wêreld hier rond beter te leer ken. Dit word opreg waardeer!}

Monday, August 20, 2007

Sondag 19 Augustus, Eerste dag in VSA

Ek het gister (Sondag) die 19de Augustus (2007) by my finale bestemming aangekom. Na bietjie meer as 22 ure se vlieg, ry en wag, het die MIT airport shuttle my by die lughawe opgetel en geneem na my apartment wat seker vir die volgende jaar of so my huis moet wees. Ek het al my goed uitgepak (was verbaas oor alles wat ek saamgebring het) en toe onder by reception gaan vra waar die naaste 'shop' is. Die naaste 'grocery store' is minder as 5 minute se stap vanaf my gebou en 'n vriendelike student vanaf Iran (nagraads in applied mathematics) het my gaan wys presies waar dit is (nogal die shortcut). Oppad het ons twee studente (lyk ook of hulle van midde-oosterse afkoms is) gekry wat hulle nagraadse studies in 'processes en systems' doen. My verwarde uitdrukking het seker aangedui dat die meer eenvoudige antwoord moes volg, "It's engineering..." Volgense my nuwe "processes en systems" vriende is hierdie Star market nie werklik so groot en goed soos van die ander 'shops', ek bedoel, 'grocery stores' nie. Ek het gereed gemaak vir 'n klein boetie van preller plein se Spar maar het toe 'n groot sussie van checkers gekry. Rakke en rakke vol van alles behalwe dit waarna ek soek. Rakke vol koue goed, rakke vol warm goed, rakke vol droeë goed, rakke vol nat goed, rakke vol groen goed, rakke vol instant goed, rakke vol oosterse goed... Ek besluit toe maar om die rakke een vir een deur te stap om myself eers vertroud te maak met hierdie nuwe wêreld. Na 'n ruk begin ek uiteindelik sin te maak vanuit hierdie verwarring... 'Organic' beteken eintlik 'dubbel die prys maar net so ongesond'. 'Buy bulk and save' beteken 'koop soveel van 'n produk dat jy nie lus gaan wees om uit te werk hoeveel dit jou gekos het nie' 'Discounted' beteken '90% vrot maar ruik nog nie'. Ek soek tussen die turkey polony (wil nie weet watter deel van die turkey hierin is nie), oosterse hari-krisjna kerse, 1kg nesquik bokse, Vanilla coke, cherry coke, diet coke, normal coke, thai noodles, japanese noodles, indian noodles, 1 kg gemaalde koffies (columbian, moroccan, arabian...), take away bekertjies, vitamien pille en nog 'n magdom ander 'verbruiker gedrewe produkte' na iets wat ek kan gebruik... Logika het gesê, stap die winkel deur, identifiseer wat jy wil hê kom dan terug en vat dit wat nodig is - en toe gaan staan en verdwaal ek wragtig nog in die winkel op soek na geidentifiseerde produkte. 'n Halfuur later is ek darem oppad uit.

Nadat ek betaal het (hulle aanvaar darem nog kontant) verlaat ek die winkel met 'n botteltjie 'normal' coke, hergebruikbare inkopie sak (die SA Government het my mooi geleer), 2 discounted koffie bekers (een vir sop en een vir koffie (vloeistof dieet - alles goed wat ek van SA gebring het)), 4 ziplock bakkies on my provitas, suiker, rooibos en koffie vars te hou, palmolive skottelgoed seep (tough on grime but soft on your hands - hulle ken nie sunlight nie), plastiek messe, vurke en lepels (wou net lepels gehad het, maar daar was nie net lepels nie...) 'n boks UHT melk, 'n bottel water (voordat ek geweet het die water is veilig vir menslike gebruik), en my trotse nuwe woonstelmaat my eie saucepan (om water op my stoof te kook vir koffie want ek kon nêrens in hierdie winkel 'n ketel kry nie...) Alles vir 'n skamele $37-00 (So R 273-00 of so sewentig triljoen zim dollars). Nog heeltemal binne my budget. All-in-all 'n goeie dag. Daarna het ek toe maar besluit on te gaan slaap. 'n Mens kan werklik net so lank op jou voete wees en half 6 VSA tyd (23:30 SA tyd) het en in my slaapsak geklim en rustig gaan slaap...

Die einde (van dag een)

(P.S. al my blogs gaan nie so lank (langdradig) en volledig soos die een wees nie - hoor maar die argitektuur kursus hier is net so gevul met slapelose nagte soos die een in Bfn - sekere dinge is seker maar so universieel soos die goudprys.) Ek het 'n posadres indien iemand daar buite dit wil hê. Ek wil dit net nie op die web post nie, netnou kry ek pakkies vol sakkies... (watookal dit kan wees ek soek dit nie.) So e-mail dit as jy my 'n regte ou-tydse brief wil stuur (het al 4 briewe vanaf Citibank gekry, die rakkers...)
Disclaimer: Die Star market winkel is werklik baie goed gestock en eintlik 'n plesier om in inkopies te doen (al gee ek 'n ander impressie). Dit is skoon, netjies ingerig met 'n wye verskeidenheid van items om van te kies - ek moet net nog uitfigure waarvan ek wil kies. Die mense agter die toonbank is vriendelik en behulpsaam, so ten opsigte van groceries koop is ek geholpe.

Mooi bly daar aan almal.