Saturday, March 29, 2008

Uiteindelik - Sommer klomp dinge

Ek sien dit is al meer as 'n maand vandat ek laas iets op die Blog ge'post' het. Nou verstaan ek waarom almal aanhou sê ek moet iets oplaai... Ek verstaan julle frustrasie: Ek lees ook Volksblad en Die Beeld en selfs die Rapport online, en wens elke keer dat ek iets sal lees wat waarde tot my lewe sal toevoeg, maar elke dag is dit maar dieselfde. So om te verhoed dat ek nou in politiek en die wesenlike van die hiper-liberale Afrikaner se skaapkraal gaan rondkrap, wend ek myself tot dinge 'closer to home'. (waar ek tans bly natuurlik...). Iets wat hopelik meer om die lyf het as die super insiggewende artikels in ons daaglikse dagblaaie...

Soos gewoonlik het die werk by my nog nie minder geword nie. Ons kry elke dag 'n nuwe maatemmer vol uitdagings - ingestamp, opgestapel en oorlaai. Gelukkig beskou ek nie meer slaap as 'n noodsaaklike aspek van my bestaan nie, so ek het nou 8 ure meer om in te werk. Nogal indrukwekkend hoeveel mens gedoen kan kry in 24 uur. Ek moet regtig iemand in SA vra om my 'n paar Bar-one's te stuur ek sal kan doen met 25 uur dae. Ek kla nie, ek weet dit gaan met almal woes - almal het baie werk, en ek hoor by Elserie dat die 3de jaar argitektuur studente ook baie min slaap (selfs nog minder as ek - vermoed ek), maar dit is mos maar 'n student se lewe. Om op te som - ten spyte van die harde werk gaan dit goed. Ek leer baie en doen nog heel goed so ek kla nie.

Vir die wat nog nie gehoor het nie, ek het werk gekry vir die somer vakansie. Oor ongeveer 8 weke eindig my 2de semester by MIT en dan begin die immergewilde 'summer holiday'. Vir die algemene student beteken dit 3 maande van vryheid, son en bittermin akademiese verpligtinge. Ek kon seker ook daardie opsie gekies het, maar siende dat die meeste van my kollegas ('klasmaats' met net nie daardie 'graduate school' gevoel nie) gedurende vakansies werk het ek ook besluit om dieselfde te doen. Die enigste probleem is dat indien ek wel 'n werk kry ek saam met my eerste salaris tjek 'n komplimentêre vlug terug SA toe (komplimente van die VSA regering natuurlik) sal ontvang aangesien internasionale studente nie buite die universiteit mag werk nie. Ek verstaan hierdie punt heeltemal want indien die internasionale studente wat wettiglik in die VSA is gaan begin werk, sal daar geen werk oor wees vir al die onwettige Meksikane en Etiopiers nie... (grap net - weet dit is 'n swak smaak grap, maar ek kon nie anders nie.) Ek is darem nie heeltemal verbied om te werk nie, solank MIT my tjek onderteken mag ek werk, so soos 'n goeie Afrikaner het ek gedoen wat enigiemand in my posisie sou doen; 5000 emails uitgestuur na elke navorsingsgroep by MIT in wie se werk en effens belangstel en myself heelhartig aanbeveel. Sommige noem dit Spamming, ander noem dit 'om jouself aan iemand op te dring', ek noem dit 'job creation'. Ek het gevra en ek het ontvang. Ek het werk gekry by een van die Building Technology groepe wat spesifiek werk op die onderwerp van 'daylighting'. Hulle fokus op tegnologie om beter gebruik te maak van daglig. Om dit baie eenvoudig te stel, hoe meer ons gebruik kan maak van daglig in ons geboue, hoe minder hoef ons gebruik te maak van elektrisiteit. Daglig, oftewel sonlig (direk of indirek) word egter ook met hitte en 'n hele klomp ander, somtyds onaangename dinge geassosieer, so dadelik moet 'n manier uitgevind word om lig in te bring, maar hitte uit te hou. Saam met dit moet ons gereedskap ontwerp en beskikbaar stel wat argitekte kan gebruik om akkuraat kan bepaal hoe hul geboue ten opsigte van daglig sal reageer - hierdie is meestal sagteware. My werk sal fokus op die saamstel van 'n tipe databasis wat gebruik kan word om die verskillende tegniese apparate en venster behandelings (films ens) wat tans beskikbaar is te organiseer en saam met die tegniese inligting en tekeninge te 'file'. Geen argitek of ontwerper wil kosbare tyd mors om self 15 verskillende maatskappe te skakel om uit te vind of hulle dalk iets het wat hom (of haar) kan help nie. Dit is waar ons dan inkom - die databasis sal online wees, en sover ek verstaan gratis.

So vir twee maande gaan ek dalk soos 'n normale mens kan werk - klink vir my of dit 'n 9 - 5 werk kan wees met naweke af, so vir my is dit amper soos vakansie - en ek word nog betaal ook, bonus! Vir die van julle wat opgelet het is daar dus 1 maand oor wat ek nie gaan werk nie en wel vakansie het - en in daardie maand verwag ek 'n baie spesiale gas vanuit Suid-Afrika, dit is nou indien die Amerikaanse regering vir haar 'n visum sal gee... (Ek het 1 volle week nodig om my bachelors flat skoon te maak, nog 'n bed te organiseer, nog 'n stel eetgerei, borde en koppies aan te skaf omdat ek tot op hede geleef het soos... soos 'n bachelor natuurlik. O, ja ek moet ook 1 stel beddegoed koop, want ek slaap al vir amper 6 maande in 'n slaapsak. Ek is fine daarmee, maar 'n kuiergas moet darem regte beddegoed kry om op te slaap.)

Ek verneem dinge in SA raak al koeler, net soos dinge aan hierdie kant warmer begin raak. Nog nie werklik tot so 'n mate dat mens dit sal agterkom nie, maar die sneeu is weg en dit sal binnekort volledig lente wees. Aangesien ek net die stertkant van die somer tydens my aankoms in herfs hier beleef het weet ek nie werklik hoe die somer is nie, maar soos ek kan onthou en wat mense my vertel raak dit baie warm, maar is dit ook 'n baie mooi plek om te sien selfs al is dit warm. Klink my dit is baie groen ook.

Ek kan nog vir bladsye aan gorrel oor wat hier aangaan, maar ek moet seker begin afsluit. Ek weet ek het nie veel gesê wat nuus is nie, maar nuus hier is maar werk. Ek sal binnekort weer probeer om iets op te laai - dalk 'n paar foto's of drie. Tot dan, hier is twee 'links' waarheen julle kan gaan. (Dit is links bo - die nuwe links) Die eerste is ons klas se 'persoonlike' blog. Die naam 'missed opportunities' spruit uit 'n term wat een van ons 'starchitect' dosente gereeld gebruik om ons projekte se menigte swakpunte mee op te som. Dit is darem nie suiwere gemors nie (alhoewel dit soms is), maar meer net 'n geleentheid wat gemis is... Die tweede link gaan na my online dorpie - net iets wat ek ontdek het op die internet. Hoe meer mense die dorpie 'besoek' hoe vinniger groei hy. ('n nuttelose tydverdryf natuurlik...)

Elkgeval hier is dit.

Laat dit goed gaan daar met almal. Indien julle iets spesifieks wonder, e-mail my asseblief. Ek vat gewoonlik nie langer as 'n week om te antwoord nie : ) . Dankie vir die ondersteuning, gebed, biltong en beskuit. (pick die bedanking wat by jou pas...)

Groete, liefde en alles van die beste, (kies weer die een wat by jou pas, indien jy onseker is vat sommer al 3, daar is genoeg vir almal!)

G