Saturday, August 16, 2008

Hoogtyd

Na amper 4 maande sonder enige aktiwiteit op my Blog kan ek verstaan as gereelde lesers gefrustreerd is met my. Indien julle op hoogte wou bly van my aktiwiteite deur die Blog te lees glo ek daar is nou baie mense wat geen idee het van hoe dit met my gaan nie... So, om mee te begin, 'n opsomming van die laaste paar maande... (Ek verdeel die inligting onder opskrifte so indien jy nie alles wil lees nie, lees net die dele wat saakmaak.)

Akademie (die rede hoekom ek afterall hierheen gekom het – ek kon McDonalds en gewig in Bloemfontein opgetel het...)

Na die vorige post het die semester tot 'n einde gekom. Eerlikwaar, ek is nie seker waar die laaste maand of so van die semester heen gegaan het nie. Ek onthou sulke traumatiese flashbacks wat te doen gehad het met lazercutters wat 4am die oggend nie werk nie, en dosente wat dreig om mense te dop en huistoe te stuur. Die dop idee is nogal skrikwekkend aangesien Citibank nie gunstig kyk op mense (met studentelenings in Amerikaanse dollars) wat nie hulle graad voltooi nie. Maar, tenspyte van al die dinge het ek darem die semester deurgekom, nogal met 'n B gemiddeld, wat heel goed is. Aangesien ons sisteem hier verskil van die SA sisteem wil mens graag nie 'n C of laer kry nie. Om te verduidelik, hier werk ons met 'n GPA (Grade point average) wat uit 5 tel, en al jou vakke vanaf die eerste jaar tot aan die einde word gebruik om dit te bepaal. Vir die eerste semester het ek 'n GPA van 3.9 gehad. Hierdie semester was my GPA 4.2, met die verhoging te danke aan beter vordering in studio (ontwerp klas) – asook miskien net 'n dosent wat minder mal was as die vorige een... (Ek bedoel mal nie negatief nie, aangesien omtrent almal hier bietjie af is.) Soos gemiddeldes werk is my GPA dus nou 4.1 (so persentasie gewys omtrent 82%). Alhoewel dit goed klink, en ek heel gelukkig is daaroor, verwag hulle nie werklik minder van 'n mens hierdie kant nie, aangesien die simbole soos volg beskryf word: A – Good pass, B – Pass C – Low pass D en laer – mense praat nie werklik hieroor nie... So om 'n lang storie kort te maak, akademies gaan dit nog heel goed met my. Ek sien uit na die jaar wat amper begin. Ek vermoed daar wag weer lang ure en laat nagte (afgewissel met vroee oggende), maar dit is maar hoe dit gaan. Level 2 soos wat hulle die tweede jaar noem is minder intens as die eerste jaar, en in die tweede semester van hierdie jaar begin ons 'electives' te kies. Dan moet ons begin besluit in watter deel ons wil 'spesialiseer' met die skripsie in gedagte. Ek sal nog my opsies oorweeg voordat ek daardie besluit kan maak.

Finansies

Ek leef nog in dollars. Die VSA het steeds nie besluit om die Suid-Afrikaanse Rand as geleenheid aan te neem nie. Ek weet werklik nie hoekom nie. Ek het die saak vir die Rand so duidelik gestel in my vorige 14 briewe aan die George Bush, maar ek vermoed hy is te besig om Irak te stabiliseer (of is dit nou destabiliseer – ek kan regtig nie meer byhou nie) so ek is geduldig met daardie veroek. Hulle sukkel al soveel jare om die lig te sien rakende 'imperial' vs 'metric' so dit mag hulle dalk 'n tydjie neem om die Rand idee te aanvaar. Ek kan wag. Dinge is steeds relatif duur hierdie kant wanneer ek my aankope in rand probeer doen, maar ek is vas oortuig dat dit goedkoper is om hier te leef relatief tot inkomste. (Ek het hier 'n hengse lang woordsom gehad wat verduidelik hoe skoonmakers hierdie kant makliker kan uitkom met hulle finansies as skoonmakers in SA (sonder enige inkomste uit siviele eise a.g.v. die "Reitz Walg-video"*) en toe besluit om dit te delete, so vat maar net my woord daarvoor...

Sosiaal

Soos tyd aangaan het die mense in die klas mekaar beter leer ken, en so groei die vriendskappe maar. Aangesien die meeste van hulle se waardes en idees oor die lewe ens. radikaal van myne verskil maak dit die ontwikkel van dieper vriendskappe ietwat moeilik, maar vir nou is dit goed genoeg. Op 'n beter noot, Elserie het vir omtrent 'n maand by my kom kuier. Was dit nou nie super aangenaam nie! Vandat ek hier gekom het, het ek nog nie iemand gehad om al die nuwe en vreemde dinge mee te deel nie. (ook weer terug na die waardes en lewensbeskouing). Dit was lekker om hierdie dinge met iemand te deel, en vir haar New York te gaan wys ens. Ons het ook vir 3 dae en 2 aande in Las Vegas gaan uithang. Daardie is glad nie 'n heilsame plek nie. Dis asof mens permanent geestelik naar voel, maar dit is tog wat mens verwag – hoe anders. Waar ander plekke in die VSA (SA is glad nie onskuldig in hierdie opsig nie – internasionale toestand) hul selfsugtige, winsgedrewe, plesiersoekende motiewe wegsteek agter mooi bemarkingsposters en vriendelike klientediens kan ek dit wel vir Las Vegas gee – jy kry wat jy verwag en watookal jy wil he kan jy daar kry mits jy die kredietkaart kan uithaal of die toorwoorde "put it on my room" ken. "Whatever happens in Vegas... follows you home on your credit card statement". Daar is 'n heilsame eerlikheid oor die plek se onheilsaamheid – snaakse ironie wat maak dat die uitstappie daarheen uiteindelik heel heilsaam was. Verder het ons ook Boston en Cambridge verken, Le Corbusier, Alvar Aalto, Frank Gehry, Steven Holl, Eero Saarinen ens se geboue gesien. Die Freedom Trail geloop en meer oor Amerika se geskiedenis geleer – Boston is mos die "Birthplace of Independence" so indien mens belangstel in die Vryheidsoorlog en baie patrioties wil voel is hierdie die plek om te kom. Elserie was nog op die 4th of July hier, so ons het mooi vuurwerke gesien – nogal begelei deur die Boston Pops klassieke orkes. Heel mooi gewees. Verder het ons die Duck Tours gedoen, 'n 2de wereld oorlog (?) boot/kar voertuig wat deur Boston ry en jou al die geskiedkundige dinge wys. Ons het die kroeg van Cheers gesien (net betyds gebore om die te onthou) en dan nog 'n hele klomp ander plekke. Dit word die Duck Tours genoem want die voertuig ry op 'n tyd in die rivier in en dan vervolg die toer op die rivier.

Geestelik

Baie baie baie dinge om te vertel, te bespreek, te noem, te ondersoek ens. Soveel so dat dit 'n individuele e-pos van belangstellendes gaan vereis (asook 'n heel ander Blog inskrywing...)

Werk

Ek werk tans nog by die Daylighting Lab hier by MIT. Dit is deel van die Building Technology program. Die wat belangstel kan dit google. Ons doen navorsing en maak 'tools' rakende alle aspekte van daylighting – maniere on daglig in geboue in te kry om sodoende energie te bespaar. In kort: Lig in temperatuur uit (of in afhangende van die seisoen). Nie so maklik soos wat dit klink nie, maar werklik ook nie so moeilik nie.

Opsomming en gevolgtrekking

Dit gaan nog goed met my. Ek vermoed dit vat omtrent 9 maande tot 'n jaar om gewoond te raak aan 'n nuwe plek. Ek voel gemaklik in die winkels en strate en voel nie meer soos 'n 'dumb foreigner' nie, alhoewel ek dit steeds regkry om vir 'n uur in die reen te verdwaal. (soos 'n tipiese man sal ek aanhou loop sonder om vir myself te erken ek is verdwaal met slegs my onfeilbare gevoel vir rigting om my te lei. Na 'n uur het ek na my innerlike vrou (baie beperkte innerlike vrou natuurlik, ek noem haar ook 'the voice of reason' of 'common sense' nie dat sy enigsins common is nie.) geluister en my gps uitgehaal. Binne 15 minute het die (vroulike) gps stem my gekry tot waar ek wou wees...

En met dit sal ek eindig vir nou.

My beste wense, liefde en groete.

G