Monday, August 20, 2007

Sondag 19 Augustus, Eerste dag in VSA

Ek het gister (Sondag) die 19de Augustus (2007) by my finale bestemming aangekom. Na bietjie meer as 22 ure se vlieg, ry en wag, het die MIT airport shuttle my by die lughawe opgetel en geneem na my apartment wat seker vir die volgende jaar of so my huis moet wees. Ek het al my goed uitgepak (was verbaas oor alles wat ek saamgebring het) en toe onder by reception gaan vra waar die naaste 'shop' is. Die naaste 'grocery store' is minder as 5 minute se stap vanaf my gebou en 'n vriendelike student vanaf Iran (nagraads in applied mathematics) het my gaan wys presies waar dit is (nogal die shortcut). Oppad het ons twee studente (lyk ook of hulle van midde-oosterse afkoms is) gekry wat hulle nagraadse studies in 'processes en systems' doen. My verwarde uitdrukking het seker aangedui dat die meer eenvoudige antwoord moes volg, "It's engineering..." Volgense my nuwe "processes en systems" vriende is hierdie Star market nie werklik so groot en goed soos van die ander 'shops', ek bedoel, 'grocery stores' nie. Ek het gereed gemaak vir 'n klein boetie van preller plein se Spar maar het toe 'n groot sussie van checkers gekry. Rakke en rakke vol van alles behalwe dit waarna ek soek. Rakke vol koue goed, rakke vol warm goed, rakke vol droeë goed, rakke vol nat goed, rakke vol groen goed, rakke vol instant goed, rakke vol oosterse goed... Ek besluit toe maar om die rakke een vir een deur te stap om myself eers vertroud te maak met hierdie nuwe wêreld. Na 'n ruk begin ek uiteindelik sin te maak vanuit hierdie verwarring... 'Organic' beteken eintlik 'dubbel die prys maar net so ongesond'. 'Buy bulk and save' beteken 'koop soveel van 'n produk dat jy nie lus gaan wees om uit te werk hoeveel dit jou gekos het nie' 'Discounted' beteken '90% vrot maar ruik nog nie'. Ek soek tussen die turkey polony (wil nie weet watter deel van die turkey hierin is nie), oosterse hari-krisjna kerse, 1kg nesquik bokse, Vanilla coke, cherry coke, diet coke, normal coke, thai noodles, japanese noodles, indian noodles, 1 kg gemaalde koffies (columbian, moroccan, arabian...), take away bekertjies, vitamien pille en nog 'n magdom ander 'verbruiker gedrewe produkte' na iets wat ek kan gebruik... Logika het gesê, stap die winkel deur, identifiseer wat jy wil hê kom dan terug en vat dit wat nodig is - en toe gaan staan en verdwaal ek wragtig nog in die winkel op soek na geidentifiseerde produkte. 'n Halfuur later is ek darem oppad uit.

Nadat ek betaal het (hulle aanvaar darem nog kontant) verlaat ek die winkel met 'n botteltjie 'normal' coke, hergebruikbare inkopie sak (die SA Government het my mooi geleer), 2 discounted koffie bekers (een vir sop en een vir koffie (vloeistof dieet - alles goed wat ek van SA gebring het)), 4 ziplock bakkies on my provitas, suiker, rooibos en koffie vars te hou, palmolive skottelgoed seep (tough on grime but soft on your hands - hulle ken nie sunlight nie), plastiek messe, vurke en lepels (wou net lepels gehad het, maar daar was nie net lepels nie...) 'n boks UHT melk, 'n bottel water (voordat ek geweet het die water is veilig vir menslike gebruik), en my trotse nuwe woonstelmaat my eie saucepan (om water op my stoof te kook vir koffie want ek kon nêrens in hierdie winkel 'n ketel kry nie...) Alles vir 'n skamele $37-00 (So R 273-00 of so sewentig triljoen zim dollars). Nog heeltemal binne my budget. All-in-all 'n goeie dag. Daarna het ek toe maar besluit on te gaan slaap. 'n Mens kan werklik net so lank op jou voete wees en half 6 VSA tyd (23:30 SA tyd) het en in my slaapsak geklim en rustig gaan slaap...

Die einde (van dag een)

(P.S. al my blogs gaan nie so lank (langdradig) en volledig soos die een wees nie - hoor maar die argitektuur kursus hier is net so gevul met slapelose nagte soos die een in Bfn - sekere dinge is seker maar so universieel soos die goudprys.) Ek het 'n posadres indien iemand daar buite dit wil hê. Ek wil dit net nie op die web post nie, netnou kry ek pakkies vol sakkies... (watookal dit kan wees ek soek dit nie.) So e-mail dit as jy my 'n regte ou-tydse brief wil stuur (het al 4 briewe vanaf Citibank gekry, die rakkers...)
Disclaimer: Die Star market winkel is werklik baie goed gestock en eintlik 'n plesier om in inkopies te doen (al gee ek 'n ander impressie). Dit is skoon, netjies ingerig met 'n wye verskeidenheid van items om van te kies - ek moet net nog uitfigure waarvan ek wil kies. Die mense agter die toonbank is vriendelik en behulpsaam, so ten opsigte van groceries koop is ek geholpe.

Mooi bly daar aan almal.