Monday, October 22, 2007

Die Snit waaroor ons nie praat Exter in kontras daarmee

Uiteindelik weer 'n nuwe post op my blog... Soos afgelei kan word gaan dit nogal besig aan hierdie kant. Studio hou ons besig en dan word daar vir lekkerte 'n skaal 1:1 snit deur 'n 30 voet gebou ingegooi net om seker te maak ons leer nie te hard aan die eksamen nie. Sover gaan alles darem nog goed, en omdat ek graag vanaand wil slaap het ek besluit om net 'n vinnige post op te laai. Ons gaan more na die International Masonry Institute waar ons meer oor Masonry gaan leer. (Nee Willie, nie Free Masonry nie, net gewone Masonry - hier is min Freedom aan die kant...) Klink my ons gaan bietjie messel en 'arches' bou ens. (Ons is mos archi-tects) Klink opwindend - ek moet darem bietjie avontuur vir my $60 000 per jaar klasgeld kry...

Die fotos wat ek oplaai is van ons besoek vandag aan die Exeter Library. Enigiemand wat iets van argitektuur weet behoort saam te stem dat hierdie werklik een merkwaardige gebou is. Ontwerp deur Louis Kahn is hierdie 'n uitstekende voorbeeld van 'n gebou gebasseer op klassieke beginsels in 'n moderne styl en gebou met moderne materiale. (Modern in die sin van die styl en nie kontemporêr - die gebou staan al omgeveer 40 jaar.)
Ek laai ook proses fotos op van ons 30 voet snit deur die MIT Chapel (ontwerp deur Saarinen). Ons het die 'materiality' van die gebou ondersoek en 'rubbings' van die stene gemaak. Aangesien die gebou omring is deur water het ons die nabygeleë muur 'gerub' om die effek te kry. Dit was nie die mees suksesvolle voorstelling nie, maar dit was die lekkerste een...
In skaamte, die volgende:
Ek het die springbokke in aksie gemis... Ek was in 'n studio klas vanaf 11 die oggend tot 4 die middag (op 'n Saterdag)... Wat mens nie alles opoffer vir geleerdheid nie...
Goed gaan verder en groete (Mis julle).



































Ons 30 voet snit uitgestal in MIT se hoof ingang. Die lelike dun een aan die regterkant is ons s'n. Dit is soos 'n oom in die tronk of 'n lelike hond - praat nie te veel oor hom nie alhoewel ons hom baie liefhet... MIT se beroepsveiligheid mense het minute nadat ons snitte opgehang is ons dosent kom berispe omdat sy nie die 'nodige kanale' gevolg het om ons goed hier op te hang nie. "Iemand kon seergekry het..." (Ok, dit is welbekend dat MIT gereeld gedagvaar word vir enigiemand wat vir enige rede seerkry. Dit is afterall Amerika...)

Die binnekant (en buitekant) van die Chapel. Die gebou sit in 'n poel water en wanneer die son skyn weerkaats dit op die water en skyn dit in die gebou in (dit het horisontale vensters wat lig vanaf onder inlaat) en gooi dit ligpatrone teen die kurwes van die mure. Die son het nie die dag so lekker geskyn nie.