Friday, September 14, 2007

Ek het 'n kamera gekry...

Ek het uiteindelik 'n kamera gekry. Nou kan ek vir julle wys hoe my wêreld aan die kant lyk. Ek begin heel gepas met 3 fotos. Die eerste een is 'n foto van my cubicle (my werkplek in die argitektuur studio op die 4de vloer van die gebou - baie trappe om te klim, maar daar is darem 'n hysbak wat ek so min as moontlik gebruik...). Ek is bewus daarvan dat my werksplek effens deurmekaar is, maar ek was besig... Die tweede 'n foto van hoe dit uit my cubicle lyk, en laastens is 'n foto van my nuut aangenome kind (het hom al so 2 weke...) Sy naam is Lava (Elserie het die naam help uitdink - dit is seker dan ons 'eerste'). Hy slaap nou al nagte deur, en hy is so stil ek vergeet somtyds dat hy daar is (Dit is nie 'n probleem nie, want hy is 'n tipe vetplant wat net 1 keer elke 2-3 weke water nodig het!) Langs Lava lê 'n paar van sy minder gelukkige boeties en sussies... Hulle help pappa om mooi rond en gesond te bly...

Ek sal as ek meer tyd het nog 'n paar fotos oplaai. Ek het baie wat ek julle wil wys, maar gee my net bietjie tyd om te loop en die fotos te neem. Tans is ons besig met 'n brug projek. Ek sal ook daardie fotos oplaai sodra die projek voltooi is. Dit kom basies daarop neer dat ons 30 voet* (geskaal natuurlik tot 'n kleiner afstand) moet oorspan met 'n brug wat uit papier gevou word. Die hoogtes van die 2 horisontale vlakke verskil met 5 voet van mekaar so 'n reguit brug is nie 'n opsie nie. Verder is die een vlak effens gedraai relatief tot die ander so die brug kan ook nie net reguit oorgaan nie. (Julle sal beter verstaan as ek die fotos oplaai).




*Hou hierdie Blog dop vir my kommentaar rakende inches, feet en yards. Ek moet skielik leer hoe om alles in 'n nuwe sisteem te doen wat eers begin sin maak as jy heeltemal deurmekaar is...

Groete

G