Saturday, September 22, 2007

Nog 'n paar fotos...

Ek het uiteindelik tyd gekry (eintelik tyd gemaak) om nog 'n paar fotos op te laai. Dit gaan nogal besig met my aan die kant aangesien ons al hoe meer projekte, take en toetse kry om aan aandag te gee. Die eerste foto is die brug wat ons ontwerp het. Die oefening was om papier te vou om 'n brug te vorm wat 30 voet sou span (op skaal) en wat beide die terrein se verskillende hoeke (horisontaal en vertikaal) hanteer. In die agtergrond is die plan van hoe die brug uit papier gevou kan word.








Hier is hoe dit binne in die brug lyk. Ek moet erken dit lyk baie beter van binne as van buite...












Vandag was hier 'n 'international festival' by Sidney-Pacific. Dit bestaan uit klomp optredes van verskillende nasies (danse uit Indië en Japan, Chinese musiek, meksikaanse orkes ens.) Soos met alle goeie byeenkomste is dar altyd gratis kos - iets waarvoor ek glad nie meer nee sê nie. So paar weke terug was dit dieselfde tipe ding net met nageregte vanuit verskillende lande - skielik word poeding die hoofmaal... Vandag by die festival het die Studente verening vir studente uit Japan aangebied om ons name in Japanees (spelling?) te vertaal. Myne (Sonder die regte uitspraak, natuurlik) beteken Talent/Art, Spring, Person. Seker heel gepas vir 'n argitektuurstudent...
Hierdie is soos my kamer vanaf die venster se kant lyk. Dit is nogal groot vir 'n bachelor's flat, maar klein vir die prys wat ek betaal... Links onder is my nuwe rekenaar en dit is duidelik dat ek nog moet beddegoed koop aangesien ek nog heeltyd in my slaapsak slaap.










Hierdie is vanaf die 'voordeur' van my kamer.















Die uitsig vanuit my kamer se venster. Ek kyk uit op die binnehof van ons kompleks. Teenaan die teenoorgestelde muur word daar somtyds 'n skerm gehang (3 verdiepings hoog) en dan word daar 'n fliek gewys.











My eerste klas op Vrydae het hierdie pragtige uitsig oor die Charles rivier. Cambridge is aan hierdie kant van die rivier, Boston is aan die ander kant. Op 'n mooier dag is die uitsig baie beter.











'n Spesiale foto om te wys hoe 'n projek krit by ons lyk. Almal sit en almal luister... Kan nogal senutergend raak, maar werklik ook een van die beste leergeleenthede ooit. Tydens hierdie krit is Dave besig om sy ontwerp te verduidelik.











Een van die vele geboue van argitektoniese belang in die Boston/Cambridge omgewing. Hierdie is Le Corbusier se Carpenter Center op Harvard se kampus. Dit was (in essensie) sy enigste gebou in die VSA en ook een van sy laaste geboue. Ek moet nog vir woensdag begin om 'n 'exploded axonometric' teken van hierdie gebou vir 'n analise wat ons moet doen.









In die agtergrond, Frank Gehry se Stata Center op MIT se kampus. ek sal later beter fotos hiervan oplaai.













Net so entjie weg vanaf Frank Gehry se objek is I.M. Pei se gebou. Die hoogste in Cambridge. Cambridge het 'n munisipale regulasie dat 'n gebou nie hoër mag wees as 'n seker aantal verdiepings nie. Om hierby verby te kom het I.M. Pei elke verdieping effens hoër gemaak... Terwyl hy binne die voorgeskrewe aantal verdiepings bly, is sy gebou hoër as die res. Twyfel bestaan daaroor of die munisipaliteit ooit weer 'n gebou hoër as die een sal goedkeur...














Die ingang van MIT se hoofgebou. 'n Hele aantal departemente word hierin gehuisves, asook verskillende administratiewe dienste. Anderster as sekere ander universiteite waarvan ek weet, word hierdie historiese 'hart van die kampus' nie vir verspotte bedrae heringerig vir die topbestuur nie. Die huisves van verskillende departemente in een gebou skep nie net geleentheid vir interdissiplinêre dialoog en navorsing nie, dit skep ook die gevoel van akademiese eenheid. Hierdie is die ingang waar ek elke dag by ingaan.







Laastens, maar definitief nie die minste nie. Net links van die hoofingang is hierdie gebou, School of "Architectvre". Die plek waar ek die meeste van my tyd tot dusver deurgebring het... ('n Skimp aan topbestuur in Bloem: Die argitektuur skool word in die hoofgebou gehuisves...)