Saturday, September 1, 2007

Volgende

Vervolg vanaf die vorige post...

(Sidney-Pacific, die plek waar ek bly, het gister 'n groot partytjie gehad wat begin het terwyl ek besig was om my Blog te skryf. Ek wou gou gaan kyk het of daar gratis kos was (gratis kos verdwyn nogal vinnig hier) en het toe daar 'n tyd lank vertoef. Ek het weggevoer geraak met die hope gratis glo-sticks (stokkies wat in die donker gloei) wat daar rondgelĂȘ het en het toe maar besluit om my Blog vandag te voltooi...)

Ek moet die GSC (Graduate Student Council) gelukwens met die kwaliteit van orientasie programme wat aangebied word vir nuwe studente. So ook vir die S-P mense (Sidney-Pacific, my blyplek). Ons het die ander aand gaan uiteet by Fire and Ice, 'n restaurant wat op 'n sjinese braai beginsel werk. Jy skep uit die groot verskeidinheid rou vleis, groente, vrugte, rys en pasta vir jou 'n bak kos in, gaan kies uit die verskeidenheid souse beskikbaar iets wat lekker lyk en dan maak hulle dit vir jou gaar - heel lekker. Toe ons daarna by S-P aankom was daar 'n poeding orientasie. Nageregte van nagenoeg 7 of 11 verskillende lande. Ek het darem roomys geken... Die res was vreemd maar aangenaam. Een van die aande het ons na die Prudential sentrum toe gegaan. Die is een van die hoogste geboue in die Boston omgewing en het 'n uitstekende uitsig oor die hele Boston en Cambridge. Jy kry so walkman ding en dan loop jy om die toring en kyk uit na al die historiese geboue terwyl die stem - in 'n eg Boston aksent - vir jou die geskiedenis verduidelik - sterk aan te bevele...

Daar is nog baie ander dinge wat gebeur, maar vir eers moet ek dalk hier stop. Ek weet dit kan baie raak om te lees, so hoop dit gee julle 'n beter idee van wat ek doen. Maandag is 'n vakansie dag, Labor day, dinsdag registreer ek en woensdag begin my klasse... Sal julle op hoogte hou van betekenisvolle dinge.
Tot later.