Wednesday, July 22, 2009

Die krummels op my tafel.

Ek sien haar beweging uit die hoek van my oog, en dadelik trek die enkele donker figuurtjie my aandag. Ek draai my kop nader en buk effens af, waarlik, 'n enkele klein miertjie op my tafel. Ek kan skaars onthou wanneer laas ek een van hierdie gesien het. Hierdie een herhinner my aan daardie klein miertjies wat altyd in die suiker, hondekos, koeksusters of die druiwesap opgeeindig het, daardie wat ek by die duisende met die doom bygekom het (en dan gekyk het hoe die malende massa rukkend tot bedaring gekom het, net om uiteindelik deur die wind verstrooi te word). Amper dieselfde as die van my kinderdae, maar tog anders, dalk 'n ander spesie, ek is afterall duisende kilometers van die huis af.
Vergete flikker my cursortjie op die skerm - met al my aandag op hierdie piepklein swart diertjie voor my wat so mooi blink in die son. "Ek het vergeet hoe mooi en perfek julle aanmekaar gesit is." Beter as wat enige "nanotechnologist" of "BEAM robotocist" hier kan doen. Ek sien hoe die klein pootjies beweeg, links, regs, links, regs, links. So foutloos soos 'n peleton soldate, en die voelertjies, op en af, links en regs, - soos die conductor by the Symphony Hall verlede maand - op soek na iets om terug te neem nes toe. My grondboontjie botter toebroodjie. "Jy soek seker 'n stukkie hiervan - toemaar daar is genoeg vir ons albei. Ek vermoed tussen my en jou is dit my eetlus wat die bank gaan breek..." Ek breek 'n krummeltjie af en sit dit voor haar neer. Die voelertjies gaan in overdrive. "Geweet jy sal daarvan hou, dis witbrood, (die bruin brood hier blaas my op soos 'n ballon) nogal Vermont special. Teen $3 'n brood nie sommer iets wat jy in die natuur sal optel nie". Sy sukkel om dit op te tel, dalk moet ek dit kleiner breek, maar terwyl ek nog so dink, lig sy die hele krummel op, seker dubbel so groot soos haar klein maer liggaampie, en beweeg sy dit sleep-sleep na 'n onbekende bestemming erens agter my lessenaar. "Ek strooi sommer nog 'n paar krummeltjies uit my ziplock sakkie vir jou hier op die hoek van my tafel, dalk vir later as jy wil terugkom vir seconds - ek vermoed die kos is maar skaars wanneer al die studente weg is - en ons is mos nou in 'n resessie." Ek volg haar ry-stop beweging vir nog 'n entjie totdat sy verby die staalliniaal en agter die hoop ou tydskrifte verdwyn. Ek tik my wagwoord in sodat my screensaver kan afgaan, terug na die werk, ek word seker nie betaal om die miere te voer nie.

Die werk vorder maar stadig. Dis mos somer in Cambridge. Mens kan nie nadat jy die New England winter met sy -14C en 12 duim sneeu oorleef het, binne 'n bedompige vertrek sit en werk nie! Ek bly al 2 jaar in die kusdorpie, maar ek was nog nooit by die strand nie...

Die son val al dieper op my lessenaar in. Hierdie tyd van die middag is dit net hoog genoeg om oor die afskorting voor my te skyn, maar nog nie laag genoeg om agter die gebou oorkant my venster vir die nag te gaan rus nie. Dis met die dat ek weer die swart blinkertjie sien. "Jys terug." "Jou krummels lê nog daar op die hoek, dalk al bietjie uitgedroog, maar sien dit maar as my poging om jou iets van my land en my mense te leer. Hierdie is seker die naaste aan beskuit wat ek jou ooit sal kan gee." Ek sien sy't een van haar maatjies ook gebring. "Dis ook reg. Ek en my mense deel graag. Soos daardie keer toe ek die hawelose man op Prospect street 'n dollar gegee het." Ek gee nie gewoonlik vir hulle geld nie, maar hierdie een was anders (soos al die ander ook seker maar is). Die verwondering in sy oë - "'n hele Dollar?!" "Do you see that?" en hy beduie toe met sy growwe vuil hand na iets wat op 'n klip so ent van hom af lê. "You can take it if you want to..." Verward stap ek nader om te sien. 'n Hoop 1 cent coins, seker maklik 20 van hulle. Met sy wiegende kop en oë wat 'n Rusplek soek, kom dit: "It's mine, I collected them... Now you can have them" glimlag hy met sy vuil tande. Diep binne hom is daar nog 'n mosterdsaadjie trots. "Are you sure?" vra ek. Dis die eerste keer dat 'n hawelose alkholis my kleingeld gee. "Does a bear shit in the fucking woods?!" kom die antwoord. Ek vermoed die antwoord op daardie vraag is "For fucking sure" maar ek vat toe maar net my sente en besluit om liewer nie te veel te gesels nie. Dalk effens meer as 'n mosterdsaadjie trots oor in hom...

Ek sien nog twee van haar vriendinnetjies het kom inloer. "Daardie Vermont special is nogal spesiaal - Jy's seker nou super gewild aangesien jy die hunk met die stash ontdek het. Nie net 'n mooi gesiggie met 'n vrygewige hart nie, hys nogal slim ook - of so sê hulle mos van almal hier".

Mettertyd verdwyn die krummeltjies, en soos die wit brokkies minder raak, raak die swart spikkeltjies meer. "Waar kom julle almal vandaan?" Ek het nog een cheddar broodjie oor en my protein shake, maar ek is seker protein shake gaan tot verdrinkings lei - en hulle gym sekerlik nie. "Hou julle van kaas of raak miere ook lactose intolerent, of Vegan? (Soos Pam die Canadian)" - verbeel jou dit; "Mamma, ek is nou Vegan, ek eet nie meer mot nie..." "My donner vrou, die kind aard na jou ma." "Goeie wolkekrabber my man, my ma is jou ma - ons is deur dieselfde koningin gebaar!"
Ek breek 'n stukkie kaas af en rol dit in 'n stywe bolletjie - doelbewus effens te groot. "Kom ons kyk wat maak julle met die..."

Dis tyd dat ek huis toe gaan. Ek begin die lang proses van save, backup en shutdown. Teen die tyd dat ek klaar is, sien ek dat nog dames hulle by ons aangesluit het. Ek sien die Finne daar met hulle fyn armpies en middeltjies, en die Russe met hulle groot sterk kake, dreigend, kouend, kragtig. Daar is die Duitsers, seker die ingenieurs van die "miereryk", en dan natuurlik die wat die swaar werk doen - Afrikaners dalk? - die een trek links en die ander regs en so bly hulle doodstil staan... By tye trek 5 aan die een kant en twee aan daardie kant en sodra die minderheid besef hulle is die minderheid gee hulle maar op en volg die stroom. Bo-op die kaasballetjie sit Amerikaners, hulle kou alte gulsig terwyl hulle saam met die kaas nes toe gedra word. "Hoeveel van julle is hier nou?" Ek tel meer as 30, terwyl nog 'n paar verdwaalde hanskakies onder my laptop en bo-op my printouts rondkruip - nie seker wat hulle soek nie, net seker dat dit nie is wat die ander het nie. "Jim (die opsigter) maak my en julle dood as hy sien wat ek doen." Daar is seker erens 'n regulasie teen die voer van miere in die studio, maar die studente is weg en wat van die resessie? Stadig maar seker beweeg die Afrikaners met die bol kaas oor die drakensberg tekendriehoek. Maklik gaan dit definitief nie, en met die rigting onseker, sal hierdie groot trek nog 'n ruk neem. "Maak maar net seker dat julle moreoggend teen die tyd wat ek terug is, al die krummels opgetel het." "Ek los vir julle 'n paar stukkies van my baba worteltjies ook. Ek sny dit kleiner in bite size blokkies met my olfa vir die vegans onder julle - en vir die hanskakies wat tog eendag die pad sal vind." Ek vat die inkopiesakke wat Rosa vir my gelos het toe sy my gegroet het voordat sy verlede maand terug is Spanje toe en gooi dit versigtig oor die miertjies sodat Jim hulle nie dalk sien indien hy toevallig vanaand hier verbykom nie. "Lekker eet en slaap my mooistes, julle is waarlik spesiaal."

---

Dat ek 'n klein miertjie so wonderbaar kon vind... Ek weet die mens is die kroon van die skepping, maar wragtig jy kan ook net soveel koerant lees en lank genoeg in hierdie wêreld leef om te besef dat die wêreld veel beter af sou wees as ons almal dalk insekte was. Tog wanneer ek na hierdie perfekte diertjie kyk is my verbasing nie as gevolg van ons gevalle toestand nie, maar die wonder van hierdie dingetjie voor my. Hou oud was ek toe ek laas na 'n mier gekyk het? Nie 'n mier gesien het en gewonder of dit in die kos gaan beland nie; ek bedoel regtig gekyk het - sonder enige pragmaties of praktiese doel voor oë. Die pootjies beweeg, die knypertjies werk die koppie dink - minstens tot so 'n mate as om op my stimuli te reageer. Beweeg ek die krummel dan word ek in 'n toutrek stryd van epiese preporsies betrek - knypers dreigend. Sy, gewikkel in 'n groot stryd om die krummel nes toe te bring - behalwe vir my dreigende pienk monster van 'n vinger, verder onbewus van my teenwoordigheid - my krag, my planne vir die toekoms, my wêreld, my 'grootheid'. Dit is egter juis op hierdie oomblik wat ek gekonfronteer word met die miertjie dat ek vergeet van my wêreld - my planne om die krummels nes toe te sleep. Dis juis hierdie oomblik wat ek deur die mees 'trivial' dingetjie vir 'n oomblik besef hoeveel meer daar is / moet wees. Dit was skrikwekkend hoe gelukkig dit my gemaak het om hierdie miertjie te sien, om te besef dat daar ander dinge bestaan - my wêreld is nie die begin en einde van als nie. Dit was nooit nie, en sal nooit wees nie. As ek soveel genot uit die miertjie kan vind, hoeveel te meer uit die Een wat die mier gemaak het. Kan ek asseblief vir 'n oomblik vergeet van al die krummels wat gesleep moet word, skakel af al hierdie 'moete', wat moet gedoen word, en wys my die groot Ingenieur - die Persoon van die groot Mier Maker. Moet my nie net wys en daar laat staan nie, maar kom hier en maak hierdie oë oop, dat hulle kan sien. Hulle kyk en kyk en sien nie, of sien so dof wanneer hulle wel sien, en alhoewel die hart weet daar is soveel meer, sien die oë soveel minder en hoor die ore dit vaagweg.
Hoekom hoor ek so gereeld net die brom en die grom van die krummels wat ek sleep? Moreoggend sal ek sien of daar nog enige krummels op my tafel oor is...

3 comments:

  1. Voel vry om kommentaar te lewer.

    ReplyDelete
  2. fantastiese waarneming en beskrywing. Glo jy nou jy kan skryf? Jy moet eerder a creative writing kursus loop en begin skryf, jy kan geld maak. Ek's ernstig, dis baie goed...
    Baie liefde

    ReplyDelete
  3. Knap gedaan! En dis nogal baie boeiend. Die analogie as mens opskaal en onsself as miertjie bevind laat mens dink.
    Groete
    kn

    ReplyDelete