Friday, July 24, 2009

Vooroordele sonder melk.

Hyt alweer die leë melkkarton in die yskas teruggesit. Vir iemand wat net vir sy girlfriend kom kuier het hy ook heeltemal te gemaklik geraak. Nadat ek moeg ek koud by die huis kom, is die laaste ding wat ek wil doen winkel toe stap om te gaan melk koop, maar hoe anders, sy gaan dit nie doen nie, en hoor hulle weer kla more as daar nie melk vir die Cheerios is nie. Dis alreeds na 8 so ek weet wie my by die winkel gaan voorkeer. Ek sien hulle oral staan. Een by die 7-eleven die ander een by die Dunkin’ op Mass Ave, verlede Woensdag selfs by die Walgreens waar ek my supplements gaan optel. Vuil en stink. Dis hoe hulle nog altyd vir my gelyk het, so asof jy die stink aan hulle kan sien. Ek kon nog nooit uitvind of hulle bruin van die son of van die vuil is nie, of is dit dalk die teken van die hoë bloedruk van al die jare se goedkoop gesuip? Ek het altyd vir hulle simpatie gehad; gedink die lewe deel mens somtyds ‘n moeilike hand, maar deesdae is ek nie meer so naiëf nie, veral nie oor daardie een wat al vir 2 jaar by dieselfde plek staan nie. Ek kan nie glo dat hy, met al hierdie AA programme en Help-The-Homeless, nie al lankal van die strate af kon gewees het nie; dalk erens kon aftree met my belastingeld, na ‘n lewe van leeglê, suip en bedel. Selfs dit sou ok wees met my, solank hy dit net kan gaan doen daar waar hy nie my dag bederf met sy alewige “ave a quater to spare...” nie – dan nog met daardie vieslike Boston aksent. Weer nou die dag sien ek vir Ragab by Harvest's se parkering. Ek noem haar Ragab want daars geen twyfel oor wat sy na ure doen nie en ongelukkig het die Israeliete nog nie hier verby gekom nie. Tydens haar normale ure verkoop sy Spare Change, die straatkoerant uitgegee deur die Homeless Empowerment Project. Dit klink so edel ’n Grassroots Organization wat die homeless die geleentheid gee om ‘hulleself te help’ deur hierdie koerantjies te verkoop. Duidelik weet hierdie ‘grassroots’ nie dat hulle koerant meer deur die ‘Grass smokers’ gebruik word as enigiemand anders nie. Die eerste week toe ek hier gekom het, voordat ek geweet het hoe dinge regtig werk, het ek twee dae agter mekaar by Ragab ‘n uitgawe gekoop, want dis mos wat ons doen, ons help mos almal. Eers by die huis het ek uitgevind daar kom net elke week ‘n nuwe uitgawe uit. Sy het doelbewus iets aan my afgesmeer waarvoor ek geen nut gehad het nie,dis mos maar hoe hulle is. Syt seker gedink as sy mooi smile ek later sal terugkom soos al daardie ander mans. Ek sien hulle sommige aande as ek laat van studio af kom. Ek weet in elkgeval nie wat dink hulle nie, of is dit, met wat dink hulle nie. Eks oortuig jy kan elke week ‘n ander STD saam met jou koerantjie optel. Verlede week Gonorrhea, hierdie week Herpes. As ons dit alfabeties hou kan jy oor 3 weke Syphilis gaan optel – moenie daardie een misloop, of is dit mislê, nie! Ek verstaan in elkgeval nie waarom mense daardie stuk gemors in die eerste plek koop nie, daar is niks in om te lees nie - net nog ‘n sisteem, ‘n rasionalisering om die undesirables in ons samelewing te onderhou. Common sense sê “Jys ‘n sucker en ‘n fool om hom te betaal om daar te staan terwyl jy vroeg opstaan en laat gaan slaap om net kop bo water te hou...”, maar dan gaan jy huistoe en voel effens beter, want jy het iemand gehelp om kos in sy maag te kry, en jyt ook darem hierdie koerantjie gekry – en jyt mos nog altyd een gesoek – so asof jy dit gaan lees...
Ek maak die ander dag ‘n opmerking oor hoeveel ‘crazies’ ek op die busse en treine sien. “Jy moet in gedagte hou” antwoord die Liberal jood my, “vir sommige van hulle is dit die enigste plek waar hulle bietjie warmte kan kry, so hulle koop die kaartjie en ry dan saam vir sover hulle kan...” Ek kan sien hoe sy kop omhoog skynheilig-trots voel oor haar besorgdheid vir haar medemens. Ek bly maar net stil en weet sys die een wat die hardste gaan tjank wanneer een van hulle op die lekker warm busrit, gisteraand se suurwyn oor haar uitkots of wanneer, soos ‘n week gelede, Lazarus die schizo met sy vuil snot baard en mompel gekerm almal probeer oortuig die wêreld eindig more en die bus is die enigste weg na Nirvana...
Daar staan hy wragtig vanaand alweer. Ek sien sy figuur, skat hom rondom die middel 50’s miskien maksimum die lae 60’s, maar met hulle weet jy mos nooit. Alkohol en rook is mos nie die liggaam se vriend nie. Hy is gelukkig met sy rug na my gedraai, besig om iemand anders te treiter, so ek kan ongesiens verby glip, die winkel binne. Reën of sneeu, hys hier. Kan hy nie net na die shelter toe gaan nie, dis hoekom dit daar is? Sommiges maak hulle lewe daaruit om sy tipe te probeer help, maar ek aanvaar sommiges wil seker net nie gehelp word nie. Ek het een of twee keer vir hom iets gegee, maar het intussen geleer om my nie aan sy diep blou oë te steur nie. Daardie moedelose, somtyds half verwarde uitdrukking is maar net toneelspel, nee, dis eintlik net manipulasie. Dis al. Jys of onnosel of maklik manipuleerbaar, ‘n swakkeling, as jy aanhoudend daarvoor val. Een van daardie tipe wat skuldig voel oor iets en nie weet hoe om dit te hanteer nie, nou verplaas hulle hulle skuld en help die wat nie werklik enigiemand se hulp waardig is nie. “Ons samelewing sal nooit vooruitgaan solank ons die wat die sisteem probeer omseil aanhou onderhou nie“ dink ek terwyl ek my twee dollar vir die melk betaal. Die Bybel is mos duidelik, as jy nie werk nie mag jy nie eet nie, of so iets.
Soos ek uitstap sien ek hom steeds daar staan. Daar staan ‘n man by hom. Hulle staan effens eenkant, uit die pad, diep in gesprek. Seker weer een of ander van sy stories, daardie selfde storie wat jy al by 5 verskillendes gehoor het. My vrou dit en dat... ek is ‘n Nam veteran... Ek kort net dit en dan... Die man by hom is netjies aangetrek, das en als. Deur na sy skoene te kyk lei ek af hys seker een van daardie ryk traders wat in die nuwe condo ontwikkeling by Kendall ingetrek het. Ek sien hulle somtyds hier rond – alles moet altyd die beste wees. Die metrosexuals, kry selfs elke week ‘n haarsny. Ek sien hulle egter nie gereeld met die bums praat nie. Soos ek nader kom sien ek hy stop iets in die hobo se hand. Net soos ek gedink het, nog ‘n paar dollar om die gewete te sus. Hy gee hom ook ‘n sakkie met wat lyk soos brood en melk, kyk hom vinnig in die gesig en begin dan, toe ek omtrent langs hulle is, haastig weg te stap. Vir die eerste paar tree maak die man asof hy my nie sien nie, kyk net af na die sypaadjie soos hy loop. Ek wag totdat ons net buite die hobo se hoorafstand is en vra die man: “Watter storie het hy vanaand vir jou gespin, weet jy nie dat hy soos al sy hobo maatjies alles vanaand gaan uitsuip nie?” Hy kyk vir ‘n paar oomblikke nog na die sypaadjie, ek wonder of hy my gehoor het. Skielik kyk hy op. Sy diep blou oë ontmoet myne. “Dis my pa daardie” kom sy antwoord.



---

Altyd iemand se pa, iemand se dogter, iemand se broer, dalk selfs jou suster, en elke keer as ek daardie dollar in die hand sit dan voel ek naar, want dis nie die oplossing nie, maar maak dit my werklik deel van die probleem?

1 comment:

  1. Doen net wat ek jou sê, jy gaan nie spyt wees nie. Mooi dag verder.
    Liefde
    M

    ReplyDelete